Wat jy nie geweet het van ‘Stroomop’

'n Toneel uit die fliek.

‘n Toneel uit die fliek.

Die splinternuwe avontuurfliek Stroomop, wat vandag in fliekteaters landwyd begin draai, is ʼn aksiebelaaide fliek waarin die vrou haar eie heldin is.

Vyf vroue, almal uit verskillende wêrelde, beland saam by groepsterapie. Daar is ʼn emosioneel uitgebrande chirurg (Donnalee Roberts), ʼn bedroefde tipe A-prokureur (Ilse Klink), haar opstandige studentedogter (Carla Classen), ʼn oorgewig, oorstelpte huisvrou en ma van drie (Chanelle de Jager), en ʼn vreesbevange jong data-analis in haar liefde verlaat (Simoné Nortmann).

As deel van die terapie gaan die vroue op ʼn river rafting-ekskursie op die erg onstuimige Oranjerivier. Wanneer hul mansgids (Armand Aucamp) daar in groot moeilikheid beland, moet dié vyf vroue saamspan – of hy, én hulle, oorleef dalk nie.

Hier is ʼn paar kitsfeite oor dié opwindende fliek:

  • Stroomop is grootliks geskiet langs die Oranjerivier in die Onseepkans-gebied.
  • Onseepkans is ongeveer 1 100 km se ry van Johannesburg af.
  • Die filmspan het 36 000 x 500 ml bottels water gedrink gedurende die vier weke van verfilming in Onseepkans. Dit is 18 000 l.
  • Die temperatuur was daagliks gemiddeld 46 grade Celcius op stel.
  • Ses vyf-perdekragmotor-aangedrewe bootjies is gebruik om die filmspan en die toerusting stroomop teen die rivier tot op die stel te vervoer.
  • Die filmspan van 60 mense het vir vier weke in tente gewoon, sonder elektrisiteit. Daar was slegs ʼn kragopwekker op sekere tye van die dag beskikbaar.
  • Daar was geen lopende water, behalwe rivierwater, selfoonsein en toiletgeriewe beskikbaar nie. Die span het van draagbare toilette en storte met vars rivierwater gebruik gemaak.
  • Die akteurs het al hulle eie toertjies op die rivier gedoen. ʼn Waaghals is wel gebruik om van die tonele in ʼn swembad in Johannesburg te skiet.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vanessa Scanlen ·

Ek is hoppend van opgewondenheid. Op my eerste volgende afdag, is dit my bederf.

MVS ·

Ek het vandag Stroomop gaan kyk! Absoluut die moeite werd!! Ek en my man was mal daaroor. Welgedaan Stroomop-span!! Julle maak my trots om Afrikaans te wees!!

Stefanie ·

Stroomop is ‘n fliek wat gekyk moet word. Jy leef jouself so in di fliek in en daar is tye wat jou trane vrylik gaan loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.