Wat jy nie geweet het van ‘Wonderlus’

Wonderlus, die splinternuwe Johan Cronjé-fliek wat dié naweek landwyd in fliekteaters begin draai, vertel die verhaal van ʼn troue wat heeltemal ontspoor wanneer die bruidegom die liefde van sy lewe moet agternasit, die bruid uit ʼn benarde situasie moet probeer ontsnap en ʼn kelnerin haarself uit ʼn penarie moet kry.

Wonderlus spog met ʼn vars rolverdeling. Ansu Visser, Lynelle Kenned en Simoné Nortmann vertolk die rolle van die strooimeisies. Mila Guy vertolk die rol van Bruid en Lea Vivier, wat tans saam met Bobby van Jaarsveld in die kykNET-komediereeks Mense Mense te sien is, speel die rol van Waitress.

Edwin van der Walt is die bruidegom terwyl Beer Adriaanse die rol van die eerlike dog grappige Lukas vertolk. Stiaan Smith, Marvin-Lee Beukes en Adam Heyns maak ook deel uit van die rolverdeling.

Die fliek wat verlede jaar met drie Silwerskermfees-toekennings huis toe is – vir beste teks (Cronjé), beste akteur (Adriaanse) en beste aktrise (Vivier), speel in die bestek van 24 uur af, maar dit is oor 24 dae in Heidelberg geskiet.

Hier is nog ʼn paar kitsfeite oor dié opwindende fliek:

– Meer as 280 akteurs en aktrises het oudisies afgelê vir die fliek.

– Die aand toe die plaasdamtoneel geskiet is, was dit 4 °C. ’n Span paramedici was heeltyd op bystand indien iets met een van die akteurs sou gebeur.

– Daar het werklik ’n trein verby gery in die plaasdamtoneel.

– Die woord “wonderlus” bestaan nie, hoewel sommige dink dit is die Afrikaanse vertaling van “Wanderlust”.

– Vivier het ’n duik in die motor se enjinkap getrap toe sy daarop klim.

– As gevolg van die oestydperk is die sonneblomveld amper verruil vir ’n kosmosveld. Dit het nie gebeur nie.

– Omdat die fliek nie ʼn chronologiese volgorde geskiet is nie, moes die bruid drie van dieselfde trourokke hê om seker te maak dat kontinuïteit behou word.

– Die groot argumenttoneel tussen Smith en Nortmann se karakters is die aand voor die verfilming herskryf.

– Die laaste skoot van die fliek is 21 keer oorgedoen. Die 20ste probeerslag is die een wat die lig gesien het.

– Die motorsleutels wat Vivier in die veld gooi in die laaste toneel het regtig weggeraak, en die span moes vir 45 minute lank daarna soek.

Kyk hier na fliekvlooi Floris Groenewald se video-resensie van Wonderlus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.