[Wen] Eksklusief: Eerste voorsmakie van ‘Modder en Bloed’

Modder en Bloed. Foto: Facebook via Modder en Bloed

Modder en Bloed. Foto: Facebook via Modder en Bloed

Modder en Bloed, ʼn epiese periodefliek oor die Anglo-Boereoorlog, begin vandag (1 April) in teaters landwyd draai.

Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel nadat sy vrou en kind in die Anglo-Boereoorlog in 1901 vermoor is.

Ná die dood van sy vrou en kind word Morkel (Stian Bam) verban na St. Helena waar hy saam met ander krygsgevangenes aangehou word. Tydens die gevangeskap is daar geen genade nie en leef hulle in haglike omstandighede. Hoewel elke dag ’n stryd om oorlewing is, moedig dit kameraadskap onder die gevangenes aan en raak hulle so heg soos ’n familie.

Stian Bam vertel mense kan baie verwag van sy karakter in die fliek. “Morkel is ʼn natuurlike leier en iemand wat vreeslik strategies dink. Maar hy was ook ʼn goeie boer en ʼn gewone mens, en vandaar het sy natuurlike instink om die leier te wees, selfs onder druk, hom ʼn simbool van die Afrikaner gemaak.”

Albert Maritz, in die rol van Isak Naude, sê Modder en Bloed vertel ʼn belangrike storie. “Baie mense gaan seker vra hoekom dit nodig is om weer so ’n verhaal te vertel. Op dié kantelpunt in die tydvak van ons land is dit belangrik dat mense weer herinner word aan die geskiedenis van die Suid-Afrikaner.”

Die oorspronklike klankbaan en die musiekvideo vir die temalied uit die fliek is ook onlangs bekendgestel. Dié album, met die titel Modder en Bloed, bevat liedjies geskryf en gesing deur kunstenaars soos Corlea, Bok van Blerk en Karlien van Jaarsveld. Al die liedjies is oorspronklik en spesifiek vir die klankbaan geskryf.

Akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Altus Theart, Jacques Bessenger, Bok van Blerk, Michael Richard en David Louw maak hul verskyning in die fliek. Britse akteurs soos Charlotte Salt (Katherine Sterndale), Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers is ook in die fliek te sien.

Let wel – Die kompetisie is gesluit: Tien lesers kan elk ‘n Modder en Bloed-klankbaan wen. Om in te skryf, stuur jou antwoord op die volgende vraag, asook jou naam, van, kontaknommer en fisiese adres na [email protected]: Wanneer begin Modder en Bloed landswyd draai? Die kompetisie sluit op 8 April. Wenners word per e-pos in kennis gestel en sal ook op sosiale media bekendgemaak word.

Kyk die voorsmakie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Britz ·

Realiteite kom voor as waarheid. Puik nabootsing van werklike gebeure.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.