Wen: Nuwe Roets-rolprent ‘aweregs, slimsnaaks’

Die rolverdeling van Hoener met die rooi skoene (Foto: Verskaf)

Die rolverdeling van Hoener met die rooi skoene (Foto: Verskaf)

Die legendariese rolprentmaker Koos Roets se splinternuwe fliek, Hoener met die rooi skoene, word op 27 Januarie landswyd in teaters uitgereik. Roets is die regisseur sowel as die draaiboekskrywer.

Dié fliek bou voort op vorige suksesvolle Roets-flieks soos ʼn Pawpaw vir my darling en Faan se trein.

Hoener met die rooi skoene is ʼn riller-komedie en gaan “kykers laat regopsit, ril en skater van die lag”, sê Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl vertolk.

“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag,” veruidelik Meiring. “Die karakters is uniek en Hoener met die rooi skoene is oorspronklik en magies. Net so fassinerend en eksentriek soos Klaarstroom, die onontdekte juweeldorpie waar ons verfilm het, weggesteek in die hart van die Klein-Karoo.”

Dié fliek vertel die storie van Bonnie, ʼn ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig klets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz).

Sy tref hom aan met ʼn dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie. By nadere aanskoue van die bloeiende baas word sy flou. As sy met die flitslig van konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld…

Dié gegewe dek die tafel vir ʼn spannende riller-komedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai, Napoleon, en die geïrriteerde en grieperige speurder, kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.

“Die fliek is geskoei op ʼn ou Franse teaterstuk en die misterie rondom die naam word in die eerste paar minute, tot groot vermaak van Konstabel Mentz, opgeklaar,” sê Roets.

“Dis nie ʼn fliek wat vir mense lewenslesse moet leer nie. Ek het hierdie fliek gemaak met een doel voor oë – om mense te vermaak. Daar is genoeg nonsens in ons land waaroor almal hulle kwel. Mense moet ook net ʼn bietjie kan terugsit, ontspan en lekker lag. Dis nou wanneer jy nie te veel skrik vir die moordenaar nie.”

Gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehobye is ook in die fliek te sien.

Vir meer inligting, besoek Hoener met die rooi skoene op Facebook.

WEN: Drie lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie na die amptelike première van Hoener met die rooi skoene op 19 Januarie wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer en adres, en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]. Vraag: Wie is die regisseur en draaiboekskrywer van die fliek? Inskrywings sluit 13 Oktober om 08:00. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.