Wen: Racheltjie se reis na die grootskerm

Zonika de Vries is Racheltjie en Stian Bam vertolk die rol van Racheltjie se pa. Foto: Verskaf.

‘n Storie vir almal. Die verhaal van Racheltjie de Beer was bestem vir die rolprentteater

Die hedendaagse kultuur gaan oor konstante heruitvinding. Alles wat oud is, word herverwerk om weer nuut te word. Dit is hoe Die verhaal van Racheltjie de Beer, die nuwe rolprent met Matthys Boshoff as regisseur, se reis na die silwerdoek begin het. Dié rolprent begin op 18 Oktober 2019 landwyd in teaters vertoon.

Die oorvertel van die gevierde volksverhaal is op die debuutroman met die dieselfde naam deur die topverkoperouteur en bekroonde filmmaker, Brett Michael Innes, gegrond. Hy het in 2012 ’n lywiger en komplekser weergawe van Die storie van Racheltjie de Beer geskryf, waarna dit ’n Suid-Afrikaanse topverkoper geword het. Daarna het hy sy boek vir die grootskerm aangepas en met Matthys Boshoff as die regisseur, het hulle ’n verhaal geskep wat hulde bewys aan sy grootwordwortels terwyl dit die gehoor na volwassenheid begelei.

Die geliefde storie vertel die verhaal van die De Beer-gesin. Nadat hul ossewa onklaar geraak het, word hulle gedwing om skuiling op ’n afgeleë plaas in die Oos-Vrystaat te soek. Die winter het aangebreek en toe donker sneeuwolke oor die Drakensberge begin aanrol, tref ’n tragedie hulle.

Dit is ’n aangrypende storie van swaarkry, opoffering en onselfsugtige liefde wat afspeel teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse bosveld gedurende die 1800’s.

“Toe ek die roman geskryf het, het ek ’n paar feite tot my beskikking gehad wat my die vryheid gegee het om die storie op ’n kreatiewe manier te ontwikkel,” het Innes gesê.

“My fokus was om insig in die karakters en hul reis te bied, en empatie met hulle te toon nadat ’n tragedie hulle genoodsaak het om vrede met hul pynlike verlede te maak. Die spanning tussen waarheid en fiksie het my die geleentheid gebied om ’n vars blik op Racheltjie se verhaal te gee waarby lojale volgelinge, jonger eietydse gehore asook mense wat nie haar storie ken nie, aanklank sal vind.

Baie skrywers voel aangetrokke tot volksverhale omdat hierdie verhale, vanweë hul aard, bedoel is om van generasie tot generasie oorvertel en hervertolk te word. Dié volksverhale vind aanklank by gehore omdat mense vertroud is met die vreemde, donker lande wat die tradisionele milieu van volksverhale is. Boonop is die taal en struktuur van volksverhale misleidend eenvoudig en bied dit ’n agtergrond waarteen die sleutelboodskappe baie meer uitstaan.

Matthys Boshoff is die regisseur van ‘Racheltjie de Beer’. Foto: Verskaf.

“As ’n draaiboekskrywer en regisseur is ek minder bekommerd of die storie waar is of nie, maar stel ek baie meer belang in die universele menslike waarhede in Racheltjie se storie,” het Boshoff genoem.

“Piet Roodt, eertydse professor in Afrikaans-letterkunde aan die Universiteit van Pretoria, het een maal vir my gesê dat jy met ’n storie die waarheid lieg. Wat sê die storie van ons as mense, van ons aard en ons kultuur? Ek hoop dat hierdie avontuurdrama die gehore met ontsag sal vervul oor die natuur se skoonheid en krag, dat dit hulle die vasberadenheid van ’n jong meisie wat met ’n lewensgevaarlike situasie gekonfronteer word, sal beleef en dat dit hul hartsnare sal roer,” het Boshoff bygevoeg.

“Hopelik sal dit hulle laat nadink oor hul verhoudings met diegene vir wie hulle die liefste is.”

Bekende akteurs speel in Die verhaal van Racheltjie de Beer: Stian Bam (Modder en Bloed, Verraaiers), Zonika de Vries (’n Man soos my pa,  Dis koue kos, skat), Marius Weyers (Dis ek, Anna, Faan se trein), Sandra Prinsloo (’n Man soos my pa, ’n Pawpaw vir my darling), Antoinette Louw (Bram Fischer, Nul is nie niks nie), Seputla Sebogodi (Isidingo, Scandal, Rhythm City), Beate Opperman (Verraaiers, Roepman), en Charlie Bouguenon (Transformers: The Last Knight, Homeland, Vuil Wasgoed). Johannes Jordaan wat Racheltjie se boetie speel, vertolk sy eerste rolprentrol.

Die rolprent het by die 2019 kykNET Silwerskermfees weggeloop met die pryse vir beste akteur (Stian Bam), beste produksieontwerp en het ook ’n spesiale VFX-eerbewys ontvang.

Kompetisie:

Kom saam bioskoop toe! Vyf lesers staan die kans om elkeen ʼn stel dubbelkaartjies na die Maroela Media se première van dié fliek in Pretoria te wen.

Waar: Nu Metro VIP Parkview (Garsfonteinweg)
Wanneer: Donderdag 10 Oktober 2019
Tyd: 19:00 vir 19:45

  • Baie geluk aan Daleen Bence, Chanel Vermeulen, Justine Coetzee, Samantha Mostert en Divan van Zyl wat die wenners van hierdie kompetisie is. Maroela Media sien daarna uit om saam met julle hierdie fliek te kyK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae