Wen: ‘Status Update’ eersdaags op die grootskerm

Daar word gereeld na hoërskool verwys as die beste jare van jou lewe. Net so, word dit deur sommige mense beskryf as ‘hel’ – ʼn tyd waarin baie tieners eensaam, verneder en uitgesluit voel omdat hulle sukkel om hulself te vind.

Maar wat as jy nie so hoef te sukkel nie? Wat as skaam en vreemd eensklaps kon verander in gewild en vol selfvertroue? Wat as jy nie net inpas nie, maar sommer die coolste kat in die kamer kan wees? Wel, in Status Update is daar ʼn selfoontoepassing wat juis dit doen.

Hierdie tienerprent, deur regisseur Scott Speer en draaiboekskrywer Jason Filardi, wys jou hoe die lewe sou wees as al jou drome kon waar word elke keer wat jy jou status aanlyn verander.

Disney Channel-ster Ross Lynch is in dié rolprent te sien as Kyle, ʼn tiener van Kalifornië, wat ontwrig word wanneer sy ouers skei en sy ma (Wendi McLendon-Covey) met hom en sy jonger sussie Connecticut toe trek.

By Kyle se nuwe skool ontmoet hy al die gewone hoërskoolkarakters – Lonnie (Harvey Guillen), die bleeksiel wat sy beste vriend word; Dani (Olivia Holt), die meisie van sy drome; en Derek (Gregg Sulkin), die gewilde ou en Kyle se aartsvyand.

Soos dit te wagte kan wees, is Kyle soos ʼn vis uit die water in sy nuwe omstangdighede. Sy eerste dag is vol vernederende oomblikke, wat veroorsaak dat sy selfoon deur boelies, wat deur Derek gelei word, gebreek word. Maar alles verander wanneer hy dit na ʼn winkel toe vat om te laat regmaak.

Daar ontmoet hy ʼn vreemde, skynbaar onbelangrike, selfoonverkoopsman (Instagram-beroemde, Josh Ostrovsky), wat hom aan YOUniverse voorstel – ʼn geheimsinnige selfoontoepassings wat sy foon in ʼn moderne ‘Aladdinse’ wenslampie verander.

Kyle ontdek baie gou dat hy met ʼn enkele sin kan kry presies wat hy wil hê – of dit nou is dat sy pa (Rob Riggle) kom kuier, hy die stem het om ʼn rol te kry in die skool se talentkonsert, of die vernuf het om die yshokkiekaptein se posisie in die span te bedreig.

Met mag kom daar egter ook groot versoekings en Kyle wil net al hoe meer hê. In slegs ʼn paar weke verander die nuwe ou in die klas in die skool se gewildste en mees veelsydige leerder. Iemand wat elke ou graag wil wees en met wie elke meisie graag wil uitgaan.

Wanneer iets in die lewe, en in elke ander soortgelyke tipe fliek, egter te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik so. Kyle word ʼn slagoffer van sy eie begeerte om aanvaar te word en gewild te wees. Maar kan hy sy lewe regruk en sal die mense wat hy seergemaak het hom kan vergewe?

“Die doel was om ʼn storie te skep vir die grootskerm wat relevant is in vandag se tyd, maar steeds die prettige en hartlike elemente van ʼn John Hughes-komedie behou. Dis ʼn betowerende, moderne feëverhaal, amper soos Big of 17 Again. Ek dink die span agter Status Update het dit reggekry en om dit, én selfs meer, te doen,” het Filardi luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Alhoewel Status Update die resep van ʼn gewone tienerfliek volg, word die stereotipes aangevul met komedie, fantasie en ʼn les oor morele waardes.

Status Update word op 30 November landswyd vrygestel.

Wen

Drie gelukkige lesers staan elkeen die kans om vier kaartjies te wen na die première van Status Update op Saterdag 24 November by Movies@Monte by Montecasino in Sandton, Johannesburg. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit Vrydag 23 November om 08:00.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.