Wen: ‘Stroomop’-DVD nou op die rakke

Die opwindende avontuurverhaal Stroomop, akteur en skrywer Ivan Botha se regisseursdebuut, is deur 117 000 fliekgangers ondersteun en het sowat R7,5 miljoen by die plaaslike loket verdien.

Stroomop het ʼn uitsonderlike speelvak van 11 weke op die fliekkringloop gehad en is tot op hede die grootste Suid-Afrikaanse fliek by die loket vir 2018,” het Pieter Geldenhuys van Filmfinity Pty (Ltd) luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Dit vertel die verhaal van vyf vroue – Lana (Donnalee Roberts), Vivian (Simoné Nortmann), Adrie (Chanelle de Jager), Nixie (Carla Classen) en Diona (Ilse Klink) – wat die stormagtige waters van die Oranjerivier en hulle eie lewe aandurf. Die fliek is op die Oranjerivier en naby Onseepkans in die Noord-Kaap, asook rondom Johannesburg geskiet, en word aangevul deur ʼn sterk rolverdeling.

Weens ʼn sameloop van omstandighede beland die vroue saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare – hulle boot slaan om en die riviergids (Armand Aucamp) raak verlore. Die vroue bevind hulle in ’n stryd om oorlewing in die wildernis. Die reis verander hulle lewe ingrypend, namate hulle saam deur seer en vrees worstel. Die rolprent fokus op temas soos  selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing.

Stroomop was letterlik vir ons die grootste avontuur van ons eie lewe. Dit is vir ons ʼn voorreg dat die karakters en storie nou kan voortleef op ʼn wyer platform binne-in mense se huise,” het Roberts en Botha dit eens.

“Ons sien uit daarna om nog meer mense deel te maak van dié epiese visuele en emosionele reis op die Oranjerivier. Ons wil ook weereens dankie sê vir almal wat reeds Stroomop op die grootskerm gaan kyk het en vir al die wonderlike terugvoer. Ons vertel stories en maak flieks vir mense, so daar is niks so spesiaal soos om iemand se opregte hartsterugvoer te ontvang nie.”

Dié rolprent is van 22 Oktober op DSTV BoxOffice beskikbaar en die DVD is ook by uitgesoekte winkels te koop.

Wen

Vyf gelukkige lesers staan elkeen die kans om ʼn Stroomop-DVD te wen. Die kompetisie sluit Maandag 29 Oktober om 10:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.