Wen: ‘Thys & Trix’ nou beskikbaar op DVD

Die aksiebelaaide komedie Thys & Trix, met Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch in die hoofrolle, is nou op DVD en DStv Box Office beskikbaar.

Fliekvlooie wêreldwyd kan ook in die pret deel deur die fliek op iTunes af te laai of op Vimeo te huur.

Thys (Bosch) en Trix (Du Randt Bosch) is broer en suster en ook ywerige maar onbeholpe polisielede. Hul onderlangse twis veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens wéér in die verleentheid stel.

Speurder Solomons (Brendon Daniels) ondersoek die bedrywighede van ʼn misdaadsindikaat op ʼn eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai. Vanweë hul “vanilla-voorkoms” word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ʼn ondersoek te lei, of eerder te laat ly, maar die feit dat hulle moet voorgee om ʼn getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie.

Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die “butler” gaan wees nie. Kort voor lank het hulle ʼn lys van verdagtes. Op die lys is hul bure: die alfa-paartjie André en Chandré Janse van Rensburg (Zak Hendrikz en Dorette Potgieter); die alternatiewe, hippie-paartjie Ben en June Marais (Ivan Zimmerman en Chanelle de Jager); die Le Rouxs, die gay-paartjie (Deon Coetzee en Charlie Bouguenon) en Heidi, die weduwee wat Thys se oog vang (Carine Rous).

Is enige van Thys en Trix se nuwe bure moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ʼn verlammende hallusineringsmiddel?

Thys & Trix, ’n rolprent deur The Film Factory en Bouwer Bosch Films, is vervaardig deur Danie Bester, Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch. Quentin C. Krog het die regie behartig.

Die DVD is beskikbaar by alle groot DVD-handelaars, insluitend Musica en CNA.

Wen

Twee gelukkige lesers staan elkeen die kans om ʼn Thys & Trix-geskenkpak te wen. Een gelukkige wenner staan die kans om ʼn DVD en ʼn XXL T-hemp te wen, terwyl nog ʼn leser die kans staan om ʼn DVD en ʼn bottel van die Trix-rooiwyn, wat spesiaal deur Hermanuspietersfontein vir die rolprent gemaak is, te wen. Die sperdatum om in te skryf is Vrydag 23 November om 09:00.

Bepalings en voorwaardes

  1. Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees.
  2. Die wenner sal per e-pos of telefoon in kennis gestel word.
  3. Die beoordeelaars se keuse is finaal en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  4. The Film Factory hanteer die versending van die prys.
  5. Die prys kan nie verrruil word vir kontant nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.