Wetenskapfiksie lei Bafta met 11 benoemings

Rebel Wilson sal vanjaar se aanbieder van die Bafta-toekennings wees wat op 13 Maart aangekondig word. (Foto: Darcy Hemley/Bafta)

Denis Villeneuve se epiese wetenskapfiksie Dune en Jane Campion se donker Western The Power of the Dog het Donderdag die voortou vir benoemings vir toekennings by die jaarlikse Britse Akademie vir Film- en Televisiekuns (Bafta) se toekenningsgeleentheid geneem.

Dié twee rolprente het onderskeidelik 11 en agt nominasies ingepalm. Hulle sal nou saam met Kenneth Branagh se semi-outobiografiese Belfast, Adam McKay se einde van wêreldkomedie Don’t Look Up en Paul Thomas Anderson se Licorice Pizza, wat in die 1970’s afspeel, om die toekenning vir beste rolprent meeding.

Belfast het altesaam ses benoemings ontvang, terwyl Daniel Craig se laaste James Bond-rolprent No Time to Die vyf gekry het. Licorice Pizza en Steven Spielberg se weergawe van die West Side Story het ook vyf benoemings elk opgeraap.

Groot name is vanjaar vir die prys vir beste akteur benoem. Benedict Cumberbatch is benoem vir sy vertolking van ʼn moeilike cowboy in die riller Campion saam met Leonardo DiCaprio vir sy rol in Don’t Look Up, terwyl Will Smith sy eerste Bafta-knik verdien vir sy rol as die Williams-susters se pa en tennisafrigter in King Richard.

Denzel Washington het egter nie die benoemingslys gehaal vir die vertolking vir sy hoofrol in The Tragedy of Macbeth nie. Dit sou Washington se eerste Bafta-benoeming gewees het.

Lady Gaga het ’n nominasie vir beste aktrise verdien vir haar vertolking van Patrizia Reggiani in Ridley Scott se House Of Gucci, net soos mede-Amerikaanse musikant Alana Haim vir haar rol in Licorice Pizza.

Belfast, House of Gucci en No Time To Die is ook genomineer vir die Baftas se toekenning vir uitnemende Britse rolprent by vanjaar se geleentheid.

Die wenners sal tydens ’n geleentheid by Londen se Royal Albert Hall op Sondag 13 Maart aangekondig word. Rebel Wilson, die Australiese aktrise wat veral bekend is vir haar rolle in talle komedies, sal die aanbieder van vanjaar se toekenningsgeleentheid wees.

  • Kliek hier om ʼn volledige lys van al die nominasies te sien.

Die nominasies vir beste rolprent by vanjaar se Bafta-toekennings is Donderdag bekendgemaak. (Foto: Bafta)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.