Zane Meas ʼn pa, Christen bowenal

Zane Meas. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“My werk as akteur is my beroep. Die werk wat ek met vaderskap doen, is my roeping.”

Só sê Zane Meas, wat veral bekend is vir sy rolle in onder meer 7de Laan, Isidingo, Ludik, Reyka en Binnelanders. Hy is ʼn akteur, skrywer en regisseur, maar beskryf homself eerstens as ʼn familieman en ʼn toegewyde Christen.

Hy staan ook aan’t stuur van Fatherhood Foundation of South Africa, ʼn niewinsgerigte organisasie wat daaraan gewy is om mans te bemagtig om getroue familiemans en goeie pa’s vir hul kinders te wees.

“Die Here het my geroep om met pa’s te werk. Dit is nie iets wat ek self besluit het nie. Ek het drie susters wat enkelmoeders is, en ek kan sien hoe dit hulle beïnvloed.

“Ek sien hoe vaderloosheid die gemeenskap raak. Mens sien dit in dinge soos bendegeweld en tienerselfmoord, dit is alles weens die afwesigheid van Godvresende pa’s in die huishouding.”

Dit is juis waarom Zane reeds jare gelede ʼn boek, Daddy, come home, geskryf het, en die land platreis om die woord van die Here met mense, en veral mans, te deel.

“By die huis is waar kinders die meeste beïnvloed word, en baie manne verstaan dit nie. Hulle dink dat dit belangriker is om by die kerk en werk gesig te wys, maar jou huis en jou familie is belangriker as enigiets anders.”

ʼn Godvresende man

Zane kan hom sy lewe nie indink sonder ʼn verhouding met die Here nie. Hy hou weekliks nagmaal saam met sy vrou en vyf kinders, iets wat hy as ʼn noodsaaklikheid vir hul geluk en geestelike gesondheid beskou.

“Alles wat ek doen, word bepaal deur my geloof. Waar my kinders skoolgaan, die werk wat ek doen, die maniere waarop ek my kinders grootmaak – alles is gebaseer op geloof en dit is die grondslag.

“Vir my is dit baie belangrik om ʼn standvastigheid en anker te hê, en dit is wat my geloof en Christus is. Ons glo in ʼn sterk gebedslewe, daarom bid ek en my vrou ook saam. Om Sondag in die kerk te wees, is ononderhandelbaar.”

Zane in “Frankie & Felipé”. (Foto: verskaf)

Zane en sy vrou, Megan, is vanjaar 30 jaar getroud en hulle kinders is tussen 10 en 30 jaar oud.

“In ʼn samelewing waar mense deesdae vir die geringste dingetjie skei, is dit belangrik dat ons kinders sien hoe toewyding lyk. Hulle sê trou is nie perde koop nie, vir my is dit belangrik om vir my kinders te wys dat geloof en ʼn huwelik belangrik is.”

Neville nog na aan sy hart

Dié 58-jarige akteur werk al sedert die tagtigerjare in die vermaakbedryf, en het ʼn string lesse in sy jare lange loopbaan geleer.

Een van dié lesse is om nie op hete kole te sit en wag vir geleenthede om oor sy pad te rol nie. Hy het aan’t stuur van verskeie flieks, insluitend Father en Klip Anker Baai, gestaan, flieks wat hy juis geskryf het om sy horisonne te verbreed.

“Mense plaas jou so dikwels in ʼn boks, en dan kom jy nooit by die karakters uit wat graag wil speel nie, daarom skryf ek dit self.”

Zane is veral bekend vir sy spel as Neville Meintjies in die destydse sepie, 7de Laan. Dié karakter, wat hy 12 jaar lank vertolk het, beskou hy vandag as ʼn hoogtepunt wat hom altyd na aan die hart sal bly.

“Jy kan nie 12 jaar lank by ʼn plek werk en nie soos familie met die mense word nie. Ons het oor en weer gekuier en elke lewensfase is behoorlik gevier.”

Hy beskou sy “eerstes” ook as onvergeetlike ervarings wat vir altyd na aan hom sal bly: sy eerste toneelstuk, Sophiatown, by die Markteater in die laat 80’s, en sy eerste televisierol in die reeks, The Game.

Dit was kort nadat sy studie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) geëindig het, en hy kyk met liefdevolle nostalgie daarna terug. Zane was die eerste uit sy familie wat gaan studeer het, en hy onthou vandag nog hoe geskok sy gesin was toe hy vir hulle sê dat hy graag drama wil studeer. In daardie jare, skerts hy, was dit nie naastenby die norm nie.

“Hulle het gedink dat ek iets soos LLB sou studeer, hulle het glad nie die drama-ding verstaan nie, maar vandag is hulle trots.”

Frankie & Felipé

Zane is eersdaags in Solomon Cupido en wyle Bradley Olivier se komedie, Frankie & Felipé, te sien.

“Ek het Bradley en Solomon jare lank geken voordat hulle vir my die rol aangebied het,” vertel hy. “Hulle het die rol spesifiek vir my geskryf.”

Hy onthou hoe hulle hom eendag gebel en gevra het om deel van die projek te wees.

Uncle Zane,” herroep hy, “ons het hierdie rol vir jou geskryf en ons wil so graag hê dat jy in die fliek moet wees.”

Zane en Ilse Klink in “Frankie & Felipé”. (Foto: verskaf)

Hy het nie geskroom om ja te sê nie, en beskou ieder en elk wat aan die fliek gewerk het vandag as familie. Frankie & Felipé sal vanaf 23 Februarie op die silwerskerm kuier, en spog met mense soos Bianca Flanders, Ilse Klink, Kim Syster, Lee-Ann van Rooi, Terence Bridgett, Bouwer Bosch en Brendan Daniels.

“Almal was ongelooflik en om met mense soos Ilse Klink en Kim Syster te speel, is wonderlik.

“Ons het werklik ʼn noue familie geword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.