[Foto’s] Jukebox spog met mylpaal

Pieter Coen, Ricus Nel en Lianie May op die stel. Foto: Phillip Bruwer

Die gewilde kuier- en musiekprogram Jukebox op kykNET het Saterdag sy 500ste episode gevier en die geleentheid gebruik om met ʼn nuwe stel en logo te spog.

Jukebox word weekliks regstreeks uitgesaai en kykers kry die geleentheid om versoeke te stuur om musiekvideo’s wat hulle graag op die kassie wil sien te speel.

André Calitz, die program se vervaardiger, het tydens ʼn informele kuiertjie by die stel by Stark Studios in Randburg, Johannesburg, gesê die program, wat in April 2008 vir die eerste keer die lig gesien het, is vir hom soos ʼn dogter.

“In die afgelope 10 jaar het die program deel van die produksiespan, kunstenaars en kykers by die huis se lewens geword. Dit is aanvanklik op Sondagaande in die stilste tydgleuf op KykNET uitgesaai, maar het so vinnig gewild geraak dat dit nou deel is van Suid-Afrikaners se Saterdagaande,” het Calitz gesê. “Ná 500 episodes het die dogter nou ook ʼn nuwe rok gekry en ons kan nie wag om met die nuwe rok te spog nie.”

Calitz het van die geleentheid gebruik gemaak om die sangers Kurt Darren, wat die program vir die eerste vier jaar aangebied het, en Pieter Koen, wat die leisels daarna oorgeneem het, te bedank vir hul deel in die program se sukses.

“Die sukses van die program word nie toegeskryf aan ons wat so oulik is nie, maar omdat mense so lief is vir musiek en kykers deel van die program kan wees.”

Nicole Van Niekerk, namens kykNET, het tydens die geleentheid gesê musiek oorbrug alle kulture en Afrikaanse musiek is die hoeksteen vir hul kykers. “kykNET sal solank sy bestaan Afrikaanse musiek ondersteun,” het sy gesê.

Koen het op sy beurt die span bedank dat hy deel kan wees van die meublement en het ʼn glasie sjampanje op die mylpaal geklink. “Oor tien jaar is ons weer hier om 1000ste program te vier,” het hy gesê.

Lianie May en Ricus Nel was die eerste gaskunstenaars wat die stel ingewy het en verskeie bekendes in die musiekbedryf het regdeur die twee uur lange program hul gelukwensings betuig.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.