Foto’s: kykNET se 10de Fiëstas in styl aangebied

Elize Cawood word met die kykNet Fiësta Teaterlegende-toekenning vereer (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

kykNET se tiende Fiësta-toekennings is gisteraand (9 Februarie) in die Kunstekaap-teater in Kaapstad aangebied en die geleentheid is ook regstreeks op kykNET uitgesaai.

Produksies wat by die ses grootste Afrikaanse kunstefeeste debuteer word jaarliks in ag geneem vir Fiëstas. Dit sluit in die Aardklop Nasionale Kunstefees, Innibos, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Suidoosterfees, die US Woordfees en die Vrystaat Kunstefees.

Casper de Vries was die seremoniemeester en is deur Dean-John Smith, June van Merch en Success Lekabe as mede-aanbieders bygestaan.

Die gehoor is vermaak met optredes deur Amanda Strydom, Emma van Heyn, Germandt Geldenhuys, Ilse Klink en Nataniël. Die sopraan Nombulelo Yende; musikante soos Laudo Liebenberg, Frank Freeman, Mikhaela Kruger, Schalk van der Merwe en Sheldon Yoko van herleefde Eet kreef!-faam, die komediant Ian Young; die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes; die Cape Town Opera Chorus en die New World Dance Theatre was ook deel van program.

Pieter-Dirk Uys word met die kykNet Fiësta Teaterlegende-toekenning vereer (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Dié gesogte geleentheid is in 2010 in die lewe geroep,” het Karen Meiring, M-Net se direkteur vir kykNET-kanale, in haar toespraak gesê. “Die doel was van die begin af om erkenning aan grensverskuiwende en gehaltewerk wat op feesverhoë op- en uitgevoer word te gee, maar ook om saam met ander rolspelers die skep van kreatiewe werk in Afrikaans te koester en te bevorder.

“Die Fiësta-paneel het sedert 2010 gesamentlik na 1 500 debuutproduksies by dié feeste gekyk. Vanjaar was daar 235 debuutproduksies wat deur die paneel beoordeel is,” het Meiring verder gesê.

Erkenning is gegee aan vier verhoogkunstenaars vir hul lewensbydrae tot die teater – Pieter-Dirk Uys, Elize Cawood, Virginia Davids en Janice Honeyman.

Janice Honeyman word met die kykNet Fiësta Teaterlegende-toekenning vereer (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Ek sal vir ewig dankbaar wees dat Janice (Honeyman) hierdie laaitie, ʼn regstudent van Mitchells Plain, destyds onder haar vlerk geneem het,” het Christo Davids, wenner van die beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, gesê. “Sy het vir my die kans gegee, terwyl daar hope dramastudente by die Universiteit van Kaapstad was uit wie sy ook kon kies.”

Cantona James, wat die toekenning vir beste opkomende kunstenaar gewen het, was ook in ekstase.

“Dit is letterlik ʼn droom wat ek al vir 22 jaar het, en nou het dit waar geword,” het hy gesê. James is tans in Arendsvlei as Daniël Lefras te sien.

Hier is die volledige lys wenners:

Devonecia Swartz en Edwin van der Walt met hulle Fiëstatoekennings vir beste vroulike en manlike byspeler (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Beste akteur:
Brendon Daniels – Queenie-hulle

Beste aktrise:
Antoinette Kellerman – Koningin Lear

Beste mansbyspeler:
Edwin van der Walt – Koningin Lear

Beste vrouebyspeler:
Devonecia Swartz – Jakkals en Wolf Onbeperk

Beste regie:
Brett Bailey – Samson

Beste teaterontwerp:
Wolf Britz – Statements After an Arrest Under the Immorality Act

Sandra Prinsloo het die toekenning vir beste spel in ‘n solo-vertoning gewen (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Beste spel in ʼn solo-vertoning:
Sandra Prinsloo – Kamphoer – die verhaal van Susan Nell

Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks:
Christo Davids en Lloyd Davids – Queenie-hulle

Beste opkomende kunstenaar:
Cantona James – In Slawenhuis 39 en Jakkals en Wolf Onbeperk

Beste prestasie in klassieke musiek:
José Dias – Hulde aan Nellie du Toit

Beste prestasie in visuele kuns:
Jean Theron Louw (beeldhouer) – My Afrika-wildehonde

Beste buitelug, musiekgedrewe produksie:
kykNET-verjaardagkonsert

Beste musiekgedrewe produksie op die podium:
Eet kreef! (Frank Freeman en Etienne van Rooyen)

Beste musiekgedrewe teaterproduksie:
Samson

Beste aanbieding:
Queenie-hulle

Beste duo of ensemble:
Jakkals en Wolf Onbeperk

Beste vertaling of verwerking van ʼn bestaande werk:
Koningin Lear

Fees van die jaar:
Innibos

Blou Fiësta-toekenning
reWOLusie

Lewensbydrae tot teater:
Elize Cawood
Janice Honeyman
Pieter-Dirk Uys
Virginia Davids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelie ·

Ai…..en so mis ons Die Byl ????. Sou dit eerder wou kyk…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.