Foto’s: Outydse sjarme in Marshstraat

De Waal Carstens, sy vrou, Joan, en hulle dogter, Cornelle, bedryf die suksesvolle Monroe-boetiek-teater en Déjà Vu Vintage Clothing. (Foto: Verskaf)

Aan die onderpunt van Marshstraat in Mosselbaai staan ʼn sandsteenhuisie wat meer as 140 jaar oud is en in ʼn unieke boetiek-teater omskep is vir fliekvlooie met ʼn voorliefde vir klassieke ou rolprente.

En vir dié wat terugverlang na die stadige pas van vervloë dae is daar vintage-klere en high teas en kamerkonserte; alles aangebied onder die persoonlike toesig van die Carstens-gesin. Ontmoet De Waal, sy vrou, Joan, en hulle dogter, Cornelle.

“Ek is die resident actress,” sê Cornelle met die intrapslag. Sy het joernalistiek en daarna drama geswot. Sy werk tans by die plaaslike koerant as subredakteur en rubriekskrywer. Nauurs roep die kabaretverhoog.

Sy vertel dit het alles begin toe De Waal, ʼn oudveekundige, en Joan, wat jare in die onderwys was, in die Suid-Kaap kom aftree het. Hulle het vinnig met die niksdoenlewe verveeld geraak en in 2007 het die kliphuisie in die Carstens-gesin se visier gekom.

Vandag, 12 jaar later, bedryf hulle die suksesvolle Monroe-boetiek-teater en Déjà Vu Vintage Clothing. Mense kom van oral af om vir ʼn tydjie te vergeet dat Marilyn en Audrey en James nie meer in lewende lywe met ons is nie. Dis nou soos in Monroe, Hepburn en Dean.

Joan vertel hulle het pas ʼn besoek van ʼn filmspan uit New York gehad wat in vervoering was oor die ouwêreldse sjarme wat hulle hier aangetref het.

Die piepklein teater het plek vir niks meer as 30 mense nie. Daar word op onpaar stoele en antieke banke gesit rondom klein tafeltjies waarop ʼn ietsie te ete en te drinke tydens die vertonings bedien word. Dit herinner effens aan die café bioscopes wat in die sestigerjare in Suid-Afrikaanse stede gewild was. Die gratis Coke wat destyds in teaters met name soos die Astoria en die Roxy uitgedeel is, is by die Monroe met ʼn soppie of ʼn gevulde pannekoek vervang. En teatergangers mag hulle eie wyn bring.

Die gehoor is al soos ou vriende, want daar is ʼn uitgelese groepie wat weekliks hulle hunkering na eendag lank, lank gelede hier kom vervul. Maar daar is ook dié wat kom trou of verjaar of net ʼn high tea geniet en dit dalk in styl met vintage-klere en ʼn stywe pinkie wil doen.

“Soms word daar ook prettige modevertonings gehou en dan dress almal op,” vertel Cornelle wat al op skool vintage-klere gedra het tot groot verleentheid van haar broer, Christian.

Joan Carstens by een van die vintage trourokke. (Foto: Verskaf)

Op die solder, met sy oorspronklike geelhoutvloere en dakbalke wat al die pad van Knysna af aangery is, hang honderde uitrustings; getailleerde tweestukpakkies in sagte pienk en beige, woljasse met pelskrae en trourokke gemaak van voile en glanskatoen en party selfs van egte sy. Daar is ook bypassende hoede en skoene uit die jare toe trêms nog in die Goudstad se strate gery het.

“Ons verkoop nie eintlik ons klere nie – ons bewaar dit, maar mense kan dit huur vir ʼn spesiale geleentheid,” sê Joan.

Sy het die huis se geskiedenis nagespeur en uitgevind dat die oorspronklike eienaar ene meneer Marsh was. Hy was Mosselbaai se eerste landdros wat in 1851 aangestel is en na wie die straat voor die Monroe vernoem is.

Die huis is iewers tussen 1870 en 1880 gebou en die vertrek wat nou as die teater gebruik word, was oorspronklik die huis se slaapkamer. Die huidige kombuisie was die badkamer. Die oorspronklike sitkamer is langs die teater waar die oorspronklike klipkaggel nog gereeld aangesteek word.

Ten beste kan dit as ʼn familieonderneming beskryf word. “Joan is die plannemaker en sjef as dit by die high teas kom. De Waal is ewe behendig in die kombuis, maar met sy praktiese kundigheid werklik ʼn onmisbare skakel in die bedryf van die winkel,” sê Cornelle. Sy bied op haar beurt gereeld komedie-kabaretvertonings in die teater aan, help met bemarking en doen ʼn klompie ander goed by die winkel “wat haar vind om te doen”.

“Ons leuse is … why be ordinary, when there is the extraordinary? Dit som op wat ons graag wil hê mense moet ervaar as hulle hier by ons kom kuier.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Ek neem by die oombliklike lees van hierdie artikel derhalwe aan dat die Carstens gesin Engelssprekend is; want goeiste, alles is Engels! Geen plek dus meer vir Afrikaans nie, met die “resident actresses”, “vintage movies and tea rooms” en “High teas” en al, jy weet…
Ons is besig oms EIEHANDIG ons eie taal en kultuur te vernietig, die ANC se aanmoediging en dwang is blykbaar nie eers meer nodig nie.
Ons is ‘n ruggraatlose “volk”.

Elsie Riekert ·

Ag nee wat dis kleinlike kommentaar. Hulle is Engelssprekend, neem ek aan, en wat hulle doen het niks met taal te doen nie. Afrikaners geniet hulle baie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.