Foto’s: Plaaslike ontwerpers maak rok vir Beyoncé

Die ontwerpe van die rok seegroen rok wat Beyoncé gedra het (Foto: ANA)

By die afgelope naweek se Global Citizen Festival in Soweto het Beyoncé haar vertoning met ʼn dramatiese seegroen skepping geëindig. Dié uitrusting was die handewerk van plaaslike ontwerpers Quiteria & George en Manualrossa.

Quiteria & George het al voorheen vir ander groot geleenthede, soos die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie, Arise-modeweek in Nigerië én die Dakar-modeweek uitrustings ontwerp.

Die lede van dié ontwerperspan het gesê hulle het die inspirasie vir Beyoncé se uitrusting vanaf hul “Metamorphosis”-reeks, wat onlangs by die Afrika-modeweek vertoon is, gekry.

“Dit was nog altyd ons missie om vir Beyoncé ʼn uitrusting te maak, maar ons het nooit gedink die dag sou so spoedig aanbreek nie,” het Quiteria Kekana van Quiteria & George gesê.

Die ander ontwerper in die span, George Malelu, het gesê dit was vir hom ʼn baie groot oomblik om die rok te maak.

Beyoncé se seegroen uitrusting in lewende lywe (Foto: Instagram via. Quiteria &George)

“Toe ek jonger was, het ek nooit gedink dat ek deel van so ʼn opspraakwekkende stuk geskiedenis sou wees nie,” het hy gesê.

Enhle Mbali Maphumulo van Manualrossa het gesê sy is opgewonde oor haar betrokkenheid by die produksie van die rok wat die wêreld se aandag getrek het.

“Ek het onlangs twee winkels, een in Johannesburg en een in New York, geopen. Ek is bly dat ek saam aan dié historiese skepping kon werk, wat nie net Suid-Afrika se modebedryf verteenwoordig nie maar ook sy talent,” het sy gesê.

Quiteria & George het in ʼn Instagram-inskrywing gesê hulle moes baie toe deure oopslaan om finansiële ondersteuning te kry. Hulle het almal bedank wat hulle ondersteun het gedurende die maak van die uitrusting.

“Geen groter geluk kon ons te beurt geval het as die geleentheid om saam met Beyoncé en haar span te werk nie. Baie dankie dat julle ons gekies het, ons is werklik baie dankbaar vir die geleentheid,” het hulle geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Feetloose ·

Noem hulle dit ‘n rok ??? Hahaha dan dra Borat seker ‘n pak klere as hy daardie snaakse dingetjie aanhet, snaaks genoeg, ook groen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.