Foto’s: So lyk die top-16 vir Mej. SA

Tamaryn Green en Adé van Heerden (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die 16 finaliste wat om die titel van Mej. Suid-Afrika 2019 sal meeding, is vandag tydens ʼn glansgeleentheid in Johannesburg aangekondig.

Stephanie Weil, die uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie, het tydens dié geleentheid gesê hulle is vanjaar op soek na ʼn Mej. SA wat haar natuurlike skoonheid vier.

“Ons doelstelling vanjaar is om die nou grense van skoonheid te herdefinieer. Ons vier alle figure en ons moedig die Mej. SA-deelnemers aan om hulself te wees, om hul natuurlike skoonheid en hul uniekheid en hul individuele sienings van die wêreld ten toon te stel,” het Weil gesê.

Die Mej. SA-organisasie het verlede jaar ʼn Mej. SA Wêreld én ʼn Mej. SA Heelal gekroon, maar Weil het verklap dat daar vanjaar slegs een Mej. SA sal wees. Die wenner van vanjaar se kompetisie sal ook ʼn splinternuwe kroon dra.

Stephanie Weil, die uitvoerende hoof van Mej. SA (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Daar kom wel twee bykomende toekennings by.

Die Ma van die nasie-toekenning sal gegee word aan ʼn vrou wat streef na ʼn doel groter as syself. Iemand wat hard werk in haar gemeenskap, maar nie altyd die erkenning kry nie.

Die Toekomstige leier-toekenning word gegee aan ʼn vrou wat stem gee aan ander en wat ʼn aktivis in die gemeenskap is.

Die 16 finaliste, sowel as die publiek, sal vroue kan nomineer vir hierdie pryse.

Weil het ook gesê die publiek kan van vandag af stem vir hul gunstelingfinalis. Dié finalis sal dan tot die top-10 van die kompetisie deurdring.

Die 2019 Mej. SA word op Vrouedag, 9 Augustus, in die Sun Arena by Times Square in Menlyn, Pretoria, gekroon. Dié geleentheid sal regstreeks op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai word.

Die top-16 vir Mej. SA 2019 is:

  • Lisa Stoffela (26) van Margate in KwaZulu‑Natal woon tans in Johannesburg. Sy is die eienaar van ʼn klein pizza-wegneemete‑restaurant en is ʼn deeltydse model.
  • Beulah Baduza (23) van Hatfield in Pretoria is ʼn BA‑regsstudent en is tans besig met haar LLB-graad.
  • Danielle Wallace (26) van Umhlanga in Durban het vroeër vanjaar Kaap toe getrek, het ʼn graad in sosiale wetenskappe en is ʼn voltydse model.
  • Nompumelelo Maduna (24) van Rockville in Soweto het ʼn BTech-bemarkingsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en werk tans as ʼn private bankier.
  • Chuma Matsaluka (21) van Nyanga in die Wes-Kaap is ʼn derdejaarstudent in politieke studies.
  • Kgothatso Dithebe (24) van Centurion in Gauteng is ʼn tweedejaar regsstudent aan Unisa.
  • Xia Narain (23) van Chatsworth in Durban het ʼn BCom-graad in algemene en bedryfsielkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf en sal binnekort haar studies vir ʼn honneursgraad in kliniese sielkunde hervat.
  • Noluthando Bennett (24) van Kagiso in Krugersdorp is ʼn klankingenieur met ʼn graad in multimedia en webontwerp.
  • Zanele Phakathi (20) van Soweto is ʼn eerstejaar ondernemingsinligtingstegnologiestudent aan die Universiteit van Johannesburg en ʼn model vir Boss Models.
  • Loren Leigh Jenneker (24) van Centurion in Gauteng studeer tans vir ʼn BCom-graad in finansies aan die Universiteit van Johannesburg.
  • Keabetswe Kanyane (25) van Montana in Pretoria werk tans as ʼn analis en projekkoördineerder en het ʼn BCom-graad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf.
  • Sasha-Lee Olivier (26) van Alberton studeer tans bemarking en sielkunde aan Wits en werk ook as model.
  • Zozibini Tunzi (25) van Tsolo in die Oos-Kaap is ʼn skakelwesestudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie.
  • Eloïse van der Westhuizen (24) van Panorama in die Kaap het ʼn BCom- en ʼn honneursgraad in logistiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is tans werksaam as ʼn handelswarebeplanner.
  • Sibabalwe Gcilitshana (24) van Nqamakwe in die Oos-Kaap woon tans in Bellville in die Kaap en werk as parlementêre beampte en navorser.
  • Errin Brits (22) van Randpark Ridge is tans in haar eerste jaar as LLB-student.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Griet ·

MM, dankie vir en geluk met julle goeie vertaling en spelling.

Lizelda ·

Ja, nee, dis BAIE duidelik dat hulle verseker wie gaan Mej SA, 1ste en 2de prinses wees. Beslis n GROOT klug Daleen

Wolf ·

Hoe moet ons ons kinders, veral ons dogters leer oor vroulike waardes ens, as al wat hulle in sulke kompetisies en boeke sien vrouens wat nie ‘n stukkie vet aan hulle lywe het nie. Dis belaglik om te dink as jy nie maer is nie is jy nie mooi nie. Good luck om elke dag slaai te eet en liters water uit te drink terwyl die res van ons aan ‘n steak en bier smul.

Joel ·

@Wolf, waardes het niks met jou looks te doen nie. Beauty at every size yes, healthy at everysize NO. As jy dit moeilik vind om jou dogter gesond groot te maak, is dit op jou en nie die wereld nie.

Karl ·

Laat ek raai, jy is oorgewig ne? Gewoonlik die ongesondes en oorgewigtes wat sulke aanmerkings maak. As jy waardes koppel met fisies, is dit op JOU.

WIEBO ·

@ Wolf. Dis so waar. n Vrou moet darem vatplek he! Party vrouens is te maer en dis nie mooi nie!!

Gollie ·

Ietwat bietjie jaloesie of wat?Los ander mense uit hou op oordeel God maak nie gemors of lelik nie.

loveMEJsa ·

Ons vaar altyd so goed in mej Heelal
weet nie van die jaar
maar moet se Xia is stunning en Eloise

en Dis great as jy jou perke ken en mens se lyf oppas

GOOD LUCK TO ALL THE LADIES

HH ·

Ag regtig is dit die mooiste in die land nee wat daar is seker baie mooier

HELP n LEEK ·

Graag wil ek die volgende vra…let wel ek vra, en lewer NIE n OPNIE NIE. Wat is die reeling rakende voorkoms poetsering met kunsmatige items soos chirurgiese inplantings, pruike etc. ..?? ek verstaan die gebruik van grimering, “strepies in die hare” en oppervlakige hulpmiddels…maar moet die kanidaat nie so natuurlik as moontlik wees, ten opsigte van dieper verbeterings soos genoemde pruike en chirurgie nie??…ek vra omdat die naam van die kompitisie tog Mej. SA is en nie Mej. Kunsmatige SA nie…ek wonder maar net, help asb n leek.

Vienna ·

SA het mooi meisies/ vrouens
Fingers crossed vir Eloïse v d Westhuizen
Sjoe maar sy is beeldskoon !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.