Foto’s: Verlowing by Emmy-toekennings het gehoor op hul voete

Glen Weiss vra vir Jan Svendersen die jawoord (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die Emmy-toekennings, wat Maandag in Los Angeles plaasgevind het, het vanjaar nie net die room van die televisiebedryf vereer nie, maar ook die liefde gevier.

Glenn Weiss (57), wat die Emmy gewen het vir beste regie in ʼn verskeidenheidsreeks, het sy toespraakoomblik benut om sy vriendin, Jan Svendersen, om haar hand te vra.

Weiss het in sy toespraak gepraat oor sy ma wat hy onlangs aan die dood afgestaan het.

“Ek is baie dankbaar om hier te wees, maar dit is bittersoet. Die mens wat die trotsste op hierdie oomblik sou gewees het, is my ma, en sy is net twee weke gelede oorlede. ʼn Deel van my hart is gebreek, maar sy is hier by my,” het hy gesê en sy hart vasgegryp.

“Ma het altyd daaraan geglo om die sonskyn in dinge raak te sien, en sy was mal oor my vriendin, Jan.

“Jan, jy is die sonskyn in my lewe, en Ma was reg, mens moet nooit jou sonskyn laat gaan nie. Jy wonder hoekom ek nie daarvan hou om jou my vriendin te noem nie? Dis omdat ek jou my vrou wil noem!” het Weiss aan ʼn emosionele Svendersen in die gehoor gesê.

Svendersen was duidelik geskok en die gehoor het haar aangemoedig om op die verhoog te gaan terwyl hulle haar staande toegejuig het.

“Dít is die ring wat my pa aan my ma se vinger gesit het 67 jaar gelede,” het Weiss gesê toe Svendersen op die verhoog kom.

“Aan my broers en suster, ek het nie die ring gesteel nie. Pa weet dat ek dit het,” het hy geskerts.

“Jan, ek wil hierdie ring wat my ma gedra het aan jou vinger sit voor al hierdie mense en voor my ma en jou ouers wat na ons kyk van bo. Sal jy met my trou?” het hy gesê.

Svendersen het ja gesê en die verloofde paartjie is met ʼn gejuig van die gehoor van die verhoog af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.