Gariep Kunstefees

1-4 September 2011

Gariep 2011 is feesbevange in September

Kimberley raak vroeg in September 2011 feesbevange! Die Gariep Kunstefees word van 1 tot 4 September vir die twaalfde keer aangebied en beloof om ’n bevange fees te wees.

Dis dan ook vanjaar se feesslagspreuk; feesbevange!

Die Gariep Kunstefees tel met reg onder die voorste kunstefeeste in Suid-Afrika wat gehalte en verskeidenheid betref.

Met die uitsondering van rolprente bied die Gariep Kunstefees vier van die groot vyf in die kunste – toneel, musiek, dans en kunsuitstallings.

Vanjaar se program bevat ’n volle 26 teaterproduksies waarvan 14 toneel is. ’n Eerste vir vanjaar is ’n leefstylproduksie met die koskenners Jenny Morris, ook bekend as the Giggling Gourmet, en Hannes van Wyk (akteur).

Van die hoogtepunte op 2011 se teaterprogram is produksies soos As ek maar geweet het (met Shaleen Surtie-Richards), Bye Ma, Jaypee (met Chris van Niekerk), Dis koue kos, skat (met Elzabé Zietsman), Groet die grotoupa (met Ben Kruger), Oupa en Ouma sit op die stoep en raak romanties (met Johan Botha en Lida Botha), Proesstraat (met Waldemar Schultz, Pierre Breytenbach, Melt Sieberhagen en Martelize Kolver) en Rooikaart (met Frank Opperman).

Terence Bridgett en Sonja Herholdt maak ook vanjaar hulle buiging op die fees. Wat musiekproduksies betref, is daar kunstenaars soos Koos Kombuis, Jak de Priester, Karla du Plessis, Chris Chameleon, Danie Niehaus, Sarah Theron en Charl du Plessis.

Al die bogenoemde produksies en kunstenaars tree op by een van drie teaters, naamlik: Diamantveld Teater, Boys’ High Teater of by die Standard Bank William Humphreys Kunsmuseum.

Noem enige gewilde Suid-Afrikaanse sanger en jy sal hom of haar by een van die tente aantref. Hulle is álmal hier. Luister net hierna: Elvis Blue, Steve Hofmeyr, Gerhard Steyn, Mean Mr Mustard, Robbie Wessels, Ray Dylan, Christo & Cobus, Nicholis Louw, Elizma Theron, Wicus van der Merwe, Jay, Lianie May, Kurt Darren, Pieter Smith, Bianca le Grange, Bok van Blerk, Jamali, Thys Die Bosveldklong, Heinz Winkler, Dr Victor & die Rasta Rebels, Die Campbells, Nádine, Jakkie Louw, David Fourie, Gerrie Pretorius, Navi Redd, Vaughn Gardiner en ander! Sjoe dis ‘n mond vol…

Nog nuus is dat wat in die verlede bekendgestaan het as die Castle Tent nou die Black Label Tent sal heet, maar steeds op dieselfde plek op die terrein gevind kan word. Die Klip-innie-Bos Tent en die Frances Baard Kultuurverhoog het egter verskuif na ‘n ander area op die terrein. Die RSG-verhoog is steeds op dieselfde plek en sal Vrydag, 2 September 2011 om 20h00 regstreeks uitsaai vanaf hul verhoog. Die kunstenaars tydens hierdie uitsending is David Fourie en Elizma Theron. Die immergewilde “After Party” vind dié jaar by die Half plaas van Donderdag tot Saterdag; 00h00 – 02h00.

Die feesterrein, by die Oppenheimer tuine, gaan weereens uit sy nate bars van al die kos- en kunsmark stalletjies. Daar sal iets wees vir elkeen se smaak. Ouers met klein kindertjies kan ook dié bevange fees kom geniet, sonder om vir ‘n oomblik bekommerd te wees oor die kleinspan wat veilig vermaak sal word by Kinnerland. Die pretpark gaan ook natuurlik weer kreun onder al die voete van vrolike kinders.

Die fees het verskeie unieke projekte soos die Diamantstad Sterreweg, geskoei op Hollywood se Walk of Fame. Kunstenaars wat ’n groot bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het, word hier vereer. Dis die enigste kunstefees in die land wat kunstenaars só huldig. Kunstenaars wie se handafdrukke reeds in die stad se sterrewegjoernaal verewig is, is Antjie Krog, André P. Brink, Kurt Darren, Sandra Prinsloo, Laurika Rauch, Zane Meas, Shaleen Surtie-Richards en Steve Hofmeyr. Vanjaar word Frank Opperman, Dr Victor, Chris Chameleon en Elsabé Zietsman vir hul bydrae tot die bevordering en vooruitgang van die uitvoerende kunste vereer. Dr Victor, hoofsanger van Dr Victor en die Rasta Rebels, is ’n boorling van Kimberley.

Nog ‘n baie gewilde projek is die jaarlikse jeugwerkswinkels wat aangebied word as deel van die fees se sosiale verantwoordelikheid. Vanjaar word daar weer ’n drama- en radio-omroepers-werkswinkel vir kinders met ’n belangstelling in drama en vir voornemende radio-omroepers aangebied. ’n Gesoute akteur, Jan-Hendrik Opperman, bied die dramawerkswinkel aan terwyl OFM se omroepers die radiowerksessie sal lei.

Die Gariep Kunstefees streef daarna om inklusief te wees deur die hele gemeenskap te betrek. Vanuit hierdie strewe het projekte soos die kaartjieprojek en die 1 000-Kidz-vir-die-Kunste-projek ontstaan. Die kaartjieprojek is ’n geldinsamelingsprojek wat gratis kaartjies vir vertonings aan ouetehuise en kinderhuise beskikbaar stel, terwyl die 1 000-Kidz-vir-die-Kunste-projek 1 000 kinders uit minderbevoorregte gemeenskappe na die fees bring sodat hulle ook in die feeservaring kan deel. Daar word vir elkeen ’n kospakkie en kaartjies vir die pretpark gegee.

Hierdie jaar se fees word reeds op Vrydag, 26 Augustus met die UV Sakeskool se Port, Poeding en Poësie-aand ingelui. Emo Adams is die gaskunstenaar.

Op Woensdag, 31 Augustus word die Nashua Mobile Celebrity4Charity Gholfdag by die Kimberley Gholfklub gehou. Besighede kan aktief betrokke raak deur fisies hul gholfstokke vir liefdadigheid te swaai. In elk van die 20 spanne van vier spelers is ’n bekende kunstenaar. Na die dag se pret op die gholfbaan word daar ‘n veiling gehou ten bate van Kansa.

Dames, moenie die Old Mutual Dames-ontbyt met gaskunstenaar Sarah Theron op Donderdag, 1 September misloop nie. Sarah gaan die dames vermaak met uittreksels uit haar gewilde vertoning, Storm in ‘n D-Cup.

Kom verloor jouself en raak feesbevange! Kry die GariepGeite gratis, met die volledige program en al die nodige inligting, oral in Kimberley en omliggende gebiede. Kaartjies is beskikbaar vanaf 21 Julie by Computicket, Money Market toonbanke, die internet by www.computicket.com of telefonies by 0861 915 8000. Die fees se kaartjiekantoor in Kimberley open 1 Augustus en is vanjaar in die Wrestlers-lokaal in die William Humphreys Kunsmuseum.

Vir meer inligting en die volledige program, besoek gerus die fees se webwerf by www.gariepfees.co.za of skakel die feeskantoor by 053 832 5014 / 7.

Besoek hulle webtuiste hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.