Aardklop: Kobus se Gat laat feesgangers vir 12 jaar smul

Feesgangers by Kobus se Gat (Foto: Janie du Plessis/Maroela Media)

Die ‘roosterkoekstalletjie’ – soos honderde feesgangers na die gewilde Kobus se Gat-kosstalletjie verwys – staan vanjaar vir die 12de agtereenvolgende jaar op die Aardklop Nasionale Kunstefees se feesgronde.

Dié stalletjie, een van die fees se gewildstes, laat feesgangers jaarliks smul aan meer as 34 verskillende disse.

Kobus se Gat-stalletjie is vir die eerste keer in 1998 in die Swartbergpas oopgemaak as deel van die Kobus se Gat Swartberg Experience-begeleide toere. Een jaar later, in 1999, is ʼn soortgelyke stalletjie vir die eerste keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees staan gemaak.

Kobus Lategan, die eienaar, vertel hy het met dié inisiatief begin nadat ʼn boerdery waarmee hy betrokke was nié geslaag het nie. “Dit was my vrou se idee om sommer vir Griet, ons dierbare huishulp wat by ons werk, na die KKNK saam te neem sodat sy roosterkoeke kan bak. Dit was ʼn treffer – en vandag is dit Kobus se Gat se vlagskipdis en iets waarvoor mense jaar na jaar terugkeer,” vertel hy.

Lategan en sy span, ʼn span van net meer as tien, is jaarliks by meer as 50 feeste landwyd te sien wat onder meer die Bloemfontein-skou, die Thabazimbi-fees en Innibos insluit. Sommige weke – soos byvoorbeeld dié week by Aardklop – is Lategan se span te sien by meer as een fees, vandeesweek is dit Aardklop, Oppikoppie en die WegRy Bull Run-fees in die Karoo.

Kobus se Gat (Foto: Janie du Plessis/Maroela Media)

Deesdae het hy sy eie vleisfabriek en 15 ton-vragmotor waarmee hy al die vleis na die feeste vervoer. Lategan sê hy het nog nooit uit voorraad geraak tydens ʼn fees nie. “Ons doen geweldig goed en verkoop by die duisende, maar ons het nog nie uit voorraad geraak nie omdat ons altyd verseker dat daar meer as genoeg is. Ons is baie bevoorreg dat die mense altyd toue staan om hier te eet – daarom het ons die vleisfabriek begin om te verseker dat ons kan sien hoe die vleis verwerk word en kan verseker dat een sosatie presies dieselfde proe by twee verskillende feeste.”

Feesgangers is dit eens: Dié stalletjie se roosterkoeke en Karoo-afval is verreweg hul gunsteling. “Mense ken ons vir die roosterkoeke wat ons voorberei, maar as ons by feeste aankom, wil mense altyd ons afval bestel en dis omdat ek hulle vertel dis regte Karoo-afval wat op die regte Karoo-manier gemaak is.”

Aardklop word nog tot 8 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

Kobus se Gat (Foto: Janie du Plessis/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zettie ·

Op die Vrystaatse Vryfees wou ons ook graag die stalletjie uit probeer, maar o wee……..mens moet baie geld hê. Ons het maar gelos en ‘n goedkoper stalletjie ondersteun wat op die end ook baie lekker was.

Yolande Hattingh ·

Ek het gister 2 x dieselfde roosterkoeke gaan koop…
Regtig deel van ons klop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.