Aardklop: Rekord bywoning; ekstra vertonings geskeduleer

Aardklop 2019 (Foto: Verskaf)

Vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom het ʼn rekordgetal besoekers op die eerste dag van die fees gelok, kaartjie verkope is deur die plafon en ekstra vertonings vir die bekendste produksies is reeds geskeduleer.

Dis veilig om te sê Aardklop 2019 is reeds ʼn reusesukses.

Delmari van Zyl, die woordvoerder van die fees, het aan Maroela Media gesê dat sowat 10 000 mense die feesterrein op die eerste dag van die fees (Dinsdag 24 September) besoek het, wat meer is as wat daar nog was sedert die nuwe bestuur Aardklop in 2016 oorgeneem het.

Sy het ook gesê hulle verwag vanjaar 30% meer besoekers as verlede jaar en dat die produksies se kaartjieverkope dit ook reflekteer.

Mense staan in rye om by die fees in te kom (Foto: Verskaf)

“Ons is stomgeslaan deur die sukses van die fees tot dusver,” het sy gesê. “Die terugvoer wat ons ontvang vanuit alle oorde is oorweldigend positief. Ons grootste fokus is om vir mense ʼn positiewe feeservaring op alle vlakke te bied en alle terugvoer dui daarop: Mense is versot op die fees!”

Van Zyl het gesê die kaartjieverkope stem ook ooreen met die hoë aantal feesgangers op vanjaar se Aardklop-feesterrein. “Daar moes reeds voor die aanvang van die fees ekstra vertonings geskeduleer word. Dit dui op die hoë gehalte van vanjaar se produksies,” het Van Zyl gesê.

Kamphoer met Sandra Prinsloo blyk ʼn gunsteling te wees op vanjaar se fees, met deurgaans uitverkoopte vertonings. Daar is ʼn ekstra produksie vir Kamphoer geskeduleer vir Saterdag 28 September om 20:00. ʼn Ekstra vertoning vir Boks is ook geskeduleer.

Ander produksies wat tot dusver uitverkoop is, is Laurika Rauch, Mesvaardighede, Pasta passie, Die Aardklop-langtafel en TBF-kuiertafel. Enkele produksies soos Frank Opperman se Donkie, halfSES vir SESuur, Moord op die 8ste gat, Schalkie en Cassie hou konsert, Sê groete vir Ma en Karoo suite is ook reeds uitverkoop.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees is steeds in volle swang tot Sondag 29 September. Alle kaartjies kan by Ticketpro gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

‘n Groep mense laat ‘n fees doodloop…en ‘n volgende groep laat dit ‘n groter sukses wees as ooit tevore. Vreemd, né?

aj ·

Die vorige fees het heeltemal ontaard … a.g.v. politiek! Daarom moes dit ‘gestop’ word sodat ‘n ‘skoon begin’ gemaak kon word.

Amper soos Brexit!

Stan ·

Die vorige fees was meer gesins vriendelik. Op die joolplaas was daar baie ruimte, regte vermaak vir kinders en ware sangers wat ons ure vermaak het. Wat vertonings betref sukkel ons nou om vertonings te kry wat gesinsvriendelik is.

Risko ·

Was self daar Dinsdag maar kan julle verseker die lang tou het niks te doen met hoeveelheid mense nie. Dit het als te doen met die swak en treurige diens by die ingang. Om mee te begin sal dit reeds goed wees om Afrikaanse mense by die punte te hê aangesien dit ‘n Afrikaanse fees is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.