Afrisaam-fees 2019 vier weer Afrikaans

“Topklas Afrikaanse musiek, heerlike feeskos en ’n veilige kindertuin waar die kinders die dag kan spandeer terwyl die ouers lekker kuier.” Só sê die organiseerders van die jaarlikse Afrisaam-fees wat vir ’n vyfde keer aangebied word.

Vanjaar se fees word op Saterdag, 8 Junie 2019, in Springs in Gauteng gehou en feesgangers kan uitsien na verskeie bekendes op die verhoog soos Steve Hofmeyr, Dirk van der Westhuizen, Juan Boucher, Bobby van Jaarsveld, Chrizaan, Arno Jordaan, Caroline Grace, Arno van der Hoff en Alida. Die Kontrak se Ivan Roux en Demi Lee Moore sal ook op die fees te sien wees.

Pieter Koen, wat ’n verrassing of twee saambring, en Henry Bruinette gaan as seremoniemeesters by die fees optree. Daar is ook hope pret en plesier met kindervermaak vir oud en jonk – ’n nuutjie op die feesprogram.

“Dié fees bied ’n platform vir Afrikaans waar álle Afrikaanse kunstenaars welkom is,” sê Lianné Barnard, een van die organiseerders. “Dis ’n platform om ons herkoms en identiteit te vier. Ons wou ook weer lewe in die dorp blaas, aangesien die dorp baie stil was en geen vermaak aangebied is nie.”

Benewens al die musiek en ander feestelikhede kan feesgangers ook uitsien na sowat 50 stalletjies – van heerlike eet- en drinkgoed tot handgemaakte produkte. “Ons hoofdoel is om mense wat van hul eie handewerk afhanklik is vir ’n inkomste, ’n platform te gee om te verkoop,” vertel Lianné verder.

Afrisaam word by die Old Boys-klub (hoek van Hobok- en Gilgilstraat in Pollak Park, Springs) gehou en die terrein is sentraal geleë, slegs 500 m vanaf die N17-hoofweg en is dus baie toeganklik. Daar is hope spasie en veilige parkering.

“Die Afrisaam-fees is ’n Afrikaanse saamstaan en saamdansmakietie,” se Lianné. “Ons kom saam om ons taal, ons musiek, ons herkoms en ons toekoms te vier. Ons het ’n pragtige taal en dit is hartseer hoe ons taal onderdruk word en verengels word. Ons het dus ’n fees geskep waar Afrikaners kan saamkom (dit is waar Afrisaam vandaan kom) en hul taal en kultuur kan kom vier!”

Kaartjies vir die vyfde Afrisaam-fees kos R180 vir volwassenes en hoërskoolkinders. Laer- en voorskoolse kinders kry gratis toegang. Kaartjies is beskikbaar by http://afrisaamfees.co.za/ of by die feeskantoor op Springs. Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan [email protected] of skakel 076 928 6921.

Die Afrisaam-fees word aangebied met The Marketing Zoo as bemarkingsvennoot en Afrikaanse Musieknuus as aanlyn mediavennoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.