App vir Aardklop nou beskikbaar!

Die Potchefstroomse Aardklop Nasionale Kunstefees, Suid-Afrika se gewildste kunstefees, het vanjaar uit sy pad gegaan om die feesondervinding so gemaklik moontlik vir feesgangers te maak. Aardklop stel dus vanjaar ʼn toepassing bekend wat jou feesondervinding sal verbeter.

“Die toepassing gee jou toegang tot ’n interaktiewe feesprogram en regstreekse resensies van alle produksies. Jy kan jou eie feeskalender aanmekaarslaan en hy waarsku jou selfs oor moontlike botsings!” het Delmari van Zyl, Aardklop se bemarkingsbestuurder, gesê.

“Verder laat die toepassing jou ook toe om deur die feesprogram te loer, kaartjies te koop met jou kredietkaart en vertonings tot jou koopmandjie te voeg. Dit is baie eenvoudig, jy daag slegs by vertonings op en jou kaartjies word direk na die toep gestuur as jy die kode op jou foon inskandeer. Dit is verspot maklik!”

Aardklop is natuurlik nie net toneel, musiek en kultuur nie, daar is ook die feesterrein. Die Aardklop-toepassing staan jou ook by om uitstallers op die feesterrein te vind deur van interaktiewe navigasie en foto’s gebruik te maak.

“Almal is deel van die fees en alle feesnuus voor en tydens die fees word direk na jou toepassing gestuur. So hou jy jou vinger op die pols van alles wat gebeur,” het Van Zyl gesê.

Die Aardklop-toepassing is gratis verkrygbaar in die Apple App Store vir iPhone en ook die Google Play store indien jy ’n Android-foon het. Tik slegs in “AARDKLOP” en laai die toepassing af.

Aardklop vind vanjaar van 2-7 Oktober in Potchefstroom plaas. Die ingangsfooi tot die feesterrein is R30 per persoon en gratis vir kinders onder 12. Vir meer inligting besoek die webblad www.aardklop.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Dit lyk nie vir my of die toep beskikbaar is nie, in elk geval nie op Android fone nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.