Atterbury koop tyd met opwipwinkel, karwas

Te danke aan die Atterbury-teater se Hibernasie Stasie-inisiatief wat vandag (27 Januarie) afskop, kan kultuurliefhebbers weer die teater ondersteun (Foto: Atterbury Teater/Facebook)

Geen teaterproduksies nie? Geen probleem nie! Te danke aan die Atterbury-teater se Hibernasie Stasie-inisiatief wat vandag (27 Januarie) afskop, kan kultuurliefhebbers weer die teater ondersteun.

Weens die huidige afsonderingsregulasies is die Atterbury-teater se deure tans gesluit vir teaterproduksies en vertonings.

Jané Roets, korporatiewe bestuurder van die teater, sê die bestuur moes dus koppe bymekaar sit en ʼn plan beraam om op ander maniere inkomste te genereer.

“Lojale teatergangers en kliënte van die afgelope tien jaar het nou die geleentheid om ons te ondersteun en deel te wees van dié nuwe inisiatief,” sê Roets.

Die inisiatief bestaan uit ʼn opwipwinkel wat vandag begin en ʼn motorwassery wat binnekort in die teater se parkeerterrein oopmaak.

Besoekers kan onder meer uitsien na dekor-items deur Ai Ai en The Joyful Find, Familie Boom se koffieprodukte, klere deur Meisie Ontwerpe, Oogappel se klei- en leerjuweliersware, Cleilap-keramiekprodukte, kinderboeke, haarprodukte deur Inoar, Nataniël se olieprodukte, beskuit en koekies; Monaco Eatery se konfyt en nog heerlike versnaperings wat deur Stephnie’s se kombuis voorberei word. Die kroeg staan ook gereed om heerlike cappuccino’s en sjokoladebruintjies (brownies) te bedien aan besoekers wat wil asemskep.

Die winkel is Woensdae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 oop en Saterdae van 09:00 tot 14:00.

Roets sê die motorwassery sal na verwagting oor ʼn week in die teater se parkeerterrein by afleweringsdeur oopmaak.

“Met dié konsep ondersteun ons ons skoonmakers en personeel wat tans nie ʼn inkomste verdien nie,” verduidelik sy. Volgens Roets beplan hulle om ʼn gesellige ruimte te skep met banke waar kliënte kan wag. E-konserte sal op televisieskerms vertoon word, terwyl jy ʼn koffie geniet en jou motor ʼn welverdiende was kry.

“Saam wil ons ʼn verskil maak en vir tyd en wyl, tot ons weer vertonings kan aanbied, hande vat om saam deur die tyd te kom,” sê Roets.

  • Alle Covid-19-regulasies sal streng gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Ek twyfel of die produksies regtig stilststaan. Ek het dan twee kaartjies vir vroeg in Februarie in my besit. Atterbury Teater is ‘n instelling met integriteit. Ek glo regtig nie hulle sal hulle ondersteuners in die steek laat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.