Baljaar in Bloemfontein dié vakansie

Verruil jy dié vakansie die ongerepte kusdorpies vir die pragtige Rosestad? Met al dié aktiwiteite wat Bloemfontein bied, wie hoef nou by die see te gaan uitspan?

Oliewenhuis-kunsmuseum

Dié Neo-Hollandse huis vol kuns is ’n kunswerk op sy eie. Gaan besigtig soos ’n wafferse kunskenner vandeesmaand se kunsuitstalling of gaan maak jou gemaklik met ’n lekker pieniekmandjie op die museum se enorme grasperk. Klik hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Bloemfontein-dieretuin

Besoek die Bloemfontein-dieretuin om aan die stadsgevoel te ontsnap en talle wilde diere asook reptiele hiér te sien. Jy kan dit ook ’n heeldaguitstappie maak deur ’n piekniekmandjie saam te neem om saam met die gesin te geniet. Loer hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Botaniese Tuin

’n Besoek aan die Botaniese Tuin buite die stad is die perfekte geleentheid om jou gedagtes skoon te kry en die jaar se stres agter jou te plaas deur die skoonheid van die natuur te ervaar. Gaan kyk, ruik en voel aan plantsoorte waarvan jy waarskynlik nog nooit gehoor het nie. Besoek die webwerf vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bewaar en dokumenteer literêre werke van die afgelope 100 jaar wat taalkundige vermenging van Oos- en Wes-Afrika vasvang en huisves ook van die bekendste literatuur deur Afrikaanse skrywers nóg. Gaan herontdek jou kreatiwiteit hiér voor die begin van die nuwe jaar. Klik hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Maselspoort-oord

Die Maselspoort-oord buite Bloemfontein is al jare lank’n baie gewilde bestemming vir die stad se inwoners en die perfekte plek vir ’n dag weg van die huis. Gaan span uit, swem en eet roomys. Dit is immers vakansie! Besoek hierdie webwerf vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

New York-restaurant

New York is al sedert 1989 deel van die Bloemfonteinse landskap en bied al byna drie dekades lank smullekker vleis-en-seekosgeregte terwyl restaurantgangers behoorlik kan voel of hulle ’n aandjie uit in New York geniet. Besoek die restaurant se webwerf vir meer inligting.

(Foto: Facebook)

Kersete saam met Kersvader

Watter beter gas om by jou Kersete te hê as Kersvader? Vanjaar kan jy die kinders vat om ’n heerlike Kersmaaltyd saam met Kersvader te geniet. Die Windmill Casino bied op 25 Desember ’n lekker Kersmiddagete waar Kersvader sy verskyning sal maak. Daar is ook vermaak vir die hele gesin. Kyk hier vir meer inligting en besprekings.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Boyden-sterrewag en Naval Hill-planetarium

Net mooi 525 600 minute – hoe meet jy ’n jaar? Ja, nóg ’n jaar is verby. Besoek die Boyden-sterrewag en Naval Hill-planetarium se Measure a Year-vertoning op 31 Desember om dié jaar op ’n baie gepaste wyse af te sluit. Loer hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.