Huisgenoot se 12de Tempo-toekennings is Dinsdagaand tydens ʼn glansgeleentheid by Emperors Palace in Johannesburg uitgedeel.
Maroela Media het vroeër berig Huisgenoot het vanjaar sy 100ste bestaansjaar gevier.
Uitblinkers by vanjaar se Tempo’s was die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, en die nuwelingsanger, Leah, wat albei drie pryse gewen het.
Die gewilde hospitaaldrama is bekroon in die kategorieë sepie van die jaar, sepie-akteur van die jaar (Hans Strydom) en sepie-aktrise van die jaar (Leandie du Randt).
Vir die album Wonderwerk is Leah bekroon in die kategorie nuweling van die jaar, en haar treffer “Met jou klere aan” het gewen in die kategorieë musiekvideo van die jaar en liedjie van die jaar.
Kort op hul hakke was Karen Zoid, wat aangewys is as TV-aanbieder van die jaar. Haar geselsprogram, Republiek van Zoid Afrika, het in die afdeling TV-reeks van die jaar in die kategorie aktualiteit, werklikheid en speletjies gewen.
Die die kabaretster, skrywer, etiketkenner en TV- en verhoogpersoonlikheid Nataniël is vereer as Afrikaanse erfenislater, en die gehoor is vermaak met optredes deur Magdaleen Minnaar en Min Shaw, Nádine, Len Muller en CH2, Gloria Bosman, Refentse Morake en Charlize Bergh, Adam, Jack Parow en Jaco van der Merwe van Bittereinder, Francois van Coke, die Lindenkoor en Karen Zoid.
Schalk Bezuidenhout was die seremoniemeester.
Hier is ʼn volledige lys wenners:
Nuweling van die jaar
Leah – Wonderwerk
Gospelalbum van die jaar
Anneli van Rooyen – Nogtans sal ek sing
Kontemporêre album van die jaar
Elvis Blue – Êrens in die middel van nêrens
Pop-/sokkiealbum van die jaar
Jay & Lianie – “Vir liefde”
Musiekvideo van die jaar
Leah – “Met jou klere aan”
Liedjie van die jaar
Leah – “Met jou klere aan”
TV-reeks van die jaar: aktualiteit, werklikheid, speletjies
Republiek van Zoid Afrika
TV-aanbieder van die jaar
Karen Zoid – Republiek van Zoid Afrika
TV-reeks van die jaar: drama, sitkom
Sterlopers
Akteur van die jaar: drama, sitkom
Armand Aucamp – Die boekklub
Aktrise van die jaar: drama, sitkom
Franci Swanepoel – Bloedbroers, Getroud met rugby, Sterlopers
Sepie van die jaar
Binnelanders
Sepie-akteur van die jaar
Hans Strydom – Binnelanders
Sepie-aktrise van die jaar
Leandie du Randt – Binnelanders
Rolprent van die jaar
Dis ek, Anna
Akteur van die jaar: Rolprent
Ivan Botha – Vir altyd
Aktrise van die jaar: Rolprent
Donnalee Roberts – Vir altyd
Radioaanbieder van die jaar
Martin Bester – Jacaranda FM
Leesboek van die jaar
Lien Botha – Wonderboom
Topverkoper-CD van die jaar
Juanita du Plessis – Toe staan die wêreld stil
Topverkoper-DVD van die jaar
Laurika Rauch en Elvis Blue – Hart en see
Afrikaanse erfenislater
Nataniël