Blommeskouspel soos min ontvou in Clanwilliam se Blomkerk

Die blomme in Clanwilliam is terug vir ‘n nuwe jaar van skou (Foto: Facebook)

Met minder as ’n maand voor die jaarlikse Clanwilliam Veldblomskou wat weer in die Blomkerk op dié dorp gehou gaan word, is die Cederberg-streek in rep en roer om die beste skou moontlik aan besoekers te bied.

Nie net die mooiste blomme sal van 24 Augustus tot 2 September in die kerk besigtig kan word nie, maar besoekers sal ook die geleentheid kry om tussen die stalletjies in die dorp deur te wandel.

Maroela Media  het vroeër berig dat dié bekende skou weens die droogte in die Wes-Kaap verlede jaar gekanselleer moes word. Maar volgens Alicia Erasmus, bemarker van die Clanwilliam Veldblomskou, vat die dorp met hernieude geesdrif hande om vanjaar se veldblomskou iets baie besonders te maak.

“Die opgewondenheid is aansteeklik omdat almal so bly is ons kan weer vanjaar ’n skou hê,” het Erasmus gesê.

Die Blomkerk (Foto: Facebook)

“Die tyd stap nader en ons tel reeds die dae af tot die opening van vanjaar se Clanwilliam Veldblomskou. Almal wat betrokke is by die samestelling van die pragtige blomuitstallings in die Blomkerk, het reeds hul beplanning fyn begin doen om die beste uitstallings vir die besoekers te bied,” het Alida Stone, voorsitter van die Clanwilliam Veldblomvereniging, gesê.

Stone het gesê die gemeenskap is bly oor die mildelike reën wat oor die streek uitgesak en die veld laat ontwaak het.

“Plek-plek is daar al mooi plate veldblomme te sien, byvoorbeeld in die Biedouwvallei en selfs in die dorp ook. Ons hoop om vanjaar ’n uitsonderlike skou te skep en sal ’n nuwe manier van skoubou inspan om vernuwing en verandering uit te beeld.”

Blomme binne die Clanwilliam Blomkerk (Foto: Facebook)

Besoekers sal meer as 400 spesies varsgeplukte veldblomme en plante, alles onder een dak, kan beleef in dié mooi uitstallings. Die tema “ontwaak” sal vanjaar sterk na vore kom met die rangskikkings wat ’n goeie weerspieëling gaan wees van die droogte wat die streek die afgelope ruk geteister het.

“Buiten die skouspel van blomme in die Blomkerk, kan besoekers deur stalletjies in die Hoofstraat gaan wandel. Stalletjies wat enigiets van roosterkoek tot kunsvlyt verkoop, sal op verskillende plekke in die dorp opgestel wees. Daar is tog niks lekkerders as ’n tuisgemaakte happie of die mooiste kuns om jou besoek aan die Clanwilliam Veldblomskou net nog meer op te helder nie,” het Stone gesê.

Bly op die hoogte van die jongste Clanwilliam Veldblomskou-nuus op Facebook of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patat ·

Ék is nuuskierig in watse toestand is die vloer (en res) van daardie kerk, wat natuurlik ʼn Afrikaner erfstuk is. Word die blomkerk se struktuur goed in stand gehou in ruil vir so ʼn uiters riskante tipe uitstalling? Kan enigiemand foto’s publiseer van hoe goed dít lyk, langs hierdie blommevreugde?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.