Calvinia hou 26ste Hantam Vleisfees

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die 26ste jaarlikse Hantam Vleisfees in Calvinia in die Noord-Kaap word vanjaar op 26 en 27 Augustus aangebied.

Danielle Cargnelutti, mediabestuurder, sê dié fees is ʼn groot trekpleister vir mense oor die hele land. “Calvinia is skaapwêreld en die laaste naweek in Augustus is alles en almal, in en om die dorp, in rep en roer. Dit is jaarliks ʼn hoogtepunt op die kalender.”

Die doel van dié fees is om die skaapvleis van die streek te bevorder.

Tydens die geleentheid sal besoekers die geleentheid hê om saam met familie en vriende aan al die feestelikhede deel te neem. Dit sluit onder meer Afrikaanse musiek, kosstalletjies en ’n reeks ander opwindende aktiwiteite in.

Kunstenaars wat by die fees te sien gaan wees, sluit onder andere in Kurt Darren, Mathys Roets, Klipwerf Orkes, Christo en Cobus, Manie Jackson en Dillon Lerm.

Daar is ook baie aktiwiteite waaraan feesgangers kan deelneem, waaronder ’n vleiseet-kompetisie, ’n bergfietsrit, ’n sterkman-kompetisie en ’n 16 km-landloopwedren. Feesgangers kan ook verskeie tentoonstellings bywoon, soos die skaapskeerdemonstrasie, rieldansers, trompoppies en ’n laservertoning.

Arno en Boesman van Zyl se “Stompe Stories” is nog ʼn hoogtepunt van die fees. Hierdie spesiale geleentheid word aangebied in die ou storieverteltradisie van groot name soos Tolla van der Merwe en mag beslis nie misgeloop word nie.

Kaartjies is net by die hekke beskikbaar en kos R40 vir volwassenes en R10 vir kinders op 26 Augustus. Kaartjies kos R80 vir volwassenes en R40 vir kinders op 27 Augustus. Toegang sluit vasdans en vertonings van kunstenaars in.

Besoek die Hantam Vleisfees se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.