‘CANSA relay for life’: Kom stap die pad van ʼn kankerpasiënt

CANSA relay for life deur CAPA (Foto: Verskaf)

Centurion Akademie en Prestige Academy (CAPA) bied op 20 Oktober ʼn deurnaggeleentheid aan wat ʼn kankerpasiënt se reis weerspieël.

By dié geleentheid sal spanne van 18:00 die Vrydagaand (20 Oktober) tot 06:00 Saterdagoggend (21 Oktober) om ʼn baan hardloop.

“Dit begin in die skemer, waar die pasiënt uitvind hulle het kanker. Alles is onseker en ’n mens kan nie lekker die pad vorentoe sien nie, maar hulle begin dit met baie hoop te stap. Dan raak dit al hoe donkerder, hulle begin met behandeling en dit maak hulle baie siek. Hulle stap dan tot by middernag waar dit vir die pasiënt op sy donkerste is – alles is sleg en moeilik, en hulle kort baie ondersteuning van die mense om hulle.

“So stap ons daardie aand saam met hulle die pad tot by die sonsopkoms van die volgende oggend. Dít verteenwoordig die lig aan die einde van die roete, waar hulle begin klaarmaak met behandeling en genees daar uitkom, óf waar hulle sterf, die lig binnegaan en só dan ook van hul lyding ontslae raak,” het Marna Kotze van CAPA gesê.

“Die rede hoekom ons om ’n baan in ’n sirkel stap, is om die eindelose stryd teen kanker te verteenwoordiging en die noodsaaklikheid van navorsing om ’n teenmiddel te kry te beklemtoon. Tot ons nie genesing vir kanker het nie, bly dit altyd ’n sirkelstryd.”

Daar sal ook ʼn geleentheid wees waar mense iets kan opdra aan iemand wat kanker het of iemand wat die stryd verloor het.

“Ons gaan wit papiersakkies met liggies binne-in verkoop. Ons sal om 20:00 die ligte afskakel en die klein liggies aanskakel. ’n Mens kan dan iets op die papier skryf of ʼn foto opplak, en só eer bring aan die mense. Daar sal ook twee jongmense wees wat hul stryd met kanker sal deel.”

Hiérdie geleentheid sal die eerste “CANSA Relay for Life” in Suid-Afrika wees wat deur ʼn kampus aangebied word.

“Ons het net agtergekom hoe baie mense deur kanker geraak word. Daar is ook baie van ons eie studente wat kanker het en ons sien hoe hulle sukkel om met hul studies by te bly. Ons wil graag vir mense daar buite wys dat daar só baie mense is wat geraak word deur kanker en dat mense dit so maklik miskyk.

“As studente het ons baie idees en energie om dit ʼn groot sukses te maak. Daar is lekker kosstalletjies vir as mense honger raak, en ons het vir Planet Fitness gekry om klassies te kom aanbied sodat ons wakker kan bly!” het Kotzé gesê.

Enige kankerpasiënte of mense wat kanker oorleef het, word gratis na die aand uitgenooi. Hulle kan ook twee metgeselle saambring om die geleentheid saam met hulle te kom geniet.

“Die aand gaan regtig oor hulle, so ons wil werklik ʼn goedvoel-geleentheid vir hulle skep. Dis hoekom hulle nie hoef te betaal nie; die aand is vir hulle.”

Vir meer inligting, of om spanne in te skryf, kontak Daniel Osborne by [email protected] of besoek die Facebookblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.