Desember in Johannesburg

Ry jy dalk dié Desembervakansie met Jan Tuisbly se karretjie, maar moet bontstaan met ʼn sesjarige in die huis? Maroela Media het ʼn lys opgestel van kindervriendelike dinge om in die Johannesburg-omgewing te doen.

Melville-koppies

ʼn Besoek aan hierdie natuurreservaat is gratis en neem jou na een van die mooiste uitsigte oor Johannesburg en is verder ook bekend vir sy argeologiese geskiedenis. Die “Vriende van Melville-koppies” bied begeleide uitstappies (4 km en 10 km) aan. Besoek gerus www.mk.org.za vir meer inligting.

 

Pretpark

Gold Reef City, net buite Johannesburg, is ʼn kinderparadys. Die pretpark bied ʼn verskeidenheid aktiwiteite, met iets vir ieder en elk – van teekoppies, ʼn wurm- en olifantrit tot goudsif en ʼn 4D-bioskoop vir die jongspan. Vir dié met senuwees van staal is daar vreesaanjaende ritte wat jou hart vinniger sal laat klop, soos die Anaconda en die gevreesde Tower of Terror. Besoek www.tsogosun.com/gold-reef-city-casino

 

Fantasie

Dit is panto-tyd in Johannesburg – musiek, dans, grappies, romantiek en ʼn hemel vol sterre is aan die orde van die dag. Die Johannesburgse Teater bied Janice Honeyman se 31ste pantomime Show White, The Fairest Panto in all the Land, tot 23 Desember aan. Die perfekte familie-uitstappie. Besoek www.joburgtheatre.com

 

Leeupark

Hier kan jy koning leeu aanskou, selfs met welpies speel en ook ʼn kameelperd voer. Daar is seldsame wit leeus, jagluiperds, ʼn swart luiperd, wildehonde en hiënas by dié park. Kom leer meer oor Suid-Afrika se wild tussen 08:30 en 21:00 elke dag van die jaar. Besoek http://www.lionandsafaripark.com

 

Verdwaal

Kom dwaal deur een van 12 mielieland-doolhowe net buitekant Johannesburg-Noord by Honeydew Mazes. Van groot tot klein, riete en mielies, selfs ’n doolhof in die vorm van ’n byekorf en een van 3,4 km met agt algemene-kennis-stasies waar die hele gesin se kennis getoets word. Besoek www.honeydewmazes.co.za

 

Sci-Bono‑ontdekkingsentrum

Die Sci-Bono Discovery Centre in Newtown is Suid-Afrika se grootse wetenskapsentrum en beslis ʼn besoek werd. Kinders (en ouers) kan aan heerlike interaktiewe tegnologie- en wetenskapuitstallings deelneem.

Die Sci-Bono‑ontdekkingsentrum is in ’n eertydse kragstasie gebou en maak wetenskap opwindend vir die jongspan. Die sentrum is sewe dae per week van 09:00 tot 16:30 oop. Besoek www.sci-bono.co.za

 

ʼn Ruimtereis

Swaartekrag, die heelal, sterrekunde, wentelbane, asteroïede, sterrebeelde. Kom ervaar ʼn ruimtereis saam met jou kind by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Besoek http://www.planetarium.co.za vir meer inligting.

 

Speel toeris op ʼn bloedrooi bus

Klim op die rooi bus en ervaar die Goudstad soos ʼn toeris. Die “Hop on Hop off”‑bus neem jou na meer as 20 van die stad se gewildste afklimplekke – van Ghandi Square en die James Hall‑vervoermuseum tot Braamfontein en Konstitusie-heuwel. Besoek www.citysightseeing.co.za vir meer inligting.

 

Uitstappie na ʼn dieretuin

Het jy geweet ʼn leeu se brul kan agt kilometer ver gehoor word?

Die Johannesburg-dieretuin huisves die Groot Vyf, wat deel van hulle meer as 365 spesies uitmaak. Pak ʼn piekniek, of eet iets by die dieretuin se restaurant, maar beplan gerus ʼn daguitstappie

 

Kinderteater

Die mooi verhaal van Beauty and the Beast Jr word hierdie feestyd by die kinderteater, die People’s Theatre, tot 24 Desember in Johannesburg aangebied. Kom ontmoet vir Belle, Babette, Lumiere en Mevrou Potts en kom kuier saam in Ondier se kasteel. Die People’s Theatre se webwerf is www.peoplestheatre.co.za

 

Tussen ganse en ʼn fontein

Somertyd is tuintyd en Johannesburg se Dieretuinmeer is ʼn gewilde piekniekplek onder inwoners. Pak die piekniekmandjie, stap om die meer (honde aan leibande is welkom) of vaar op ʼn boot op die meer. Die Zoo Lake Sports Club is ook hier geleë en bied ʼn groot verskeidenheid sportsoorte aan wat beoefen kan word.

 

Voëls van eenderse vere

Kom ervaar die towerkrag van Montecasino se voëls by hulle gewilde voëltuin. Die tuin huisves ook die grootste versameling broodbome in die wêreld en daar is ʼn paddakamer, ʼn papegaai-uitstalling asook verskeie reptiele. Die tuine is geaffilieer met die Mabula Bromvoël‑bewaringsprojek en alle donasies wat tydens die vertonings ingesamel word, word aan dié projek geskenk. Die Flight Fantasy Show word twee maal per dag deur die week en drie maal per dag oor ʼn naweek aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.