‘Die ander konsert’ op Vrystaat Kunstefees te sien

Musikante van 'Die Ander Konsert' (Foto: Verskaf)

Musikante van ‘Die Ander konsert’ (Foto: Verskaf)

Die musiekproduksie Die ander konsert is weer vanjaar van 11 tot 16 Julie op die jaarlikse Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein te sien.

Dié produksie het verlede jaar op die Woordfees gedebuteer en was daarna ook op die KKNK te sien.

Die ander konsert sluit die vernuf van Peter Mitchell, Frieda van den Heever, Mavis Vermaak, Nick Turner, Gerald Clark, Luna Paige, Schalk Joubert en Ronan Skillen in. Saam vorm dié groep ʼn konsert met ses meesleurende stemme, twee kletsende klaviere, drie kitare, ʼn wêreldklas baskitaarspeler en ʼn Engelsman wat uitheemse tromme slaan.

Paige, die vervaardiger, sê dié produksie is geskik vir oud en jonk. “Al hierdie musikante kom op die verhoog bymekaar om liedjies en stories uit te ruil, en daar is iets vir almal daarin te sien.”

Volgens haar het die produksie goeie resensies gekry en was gehore gaande daaroor.

Paige sê die produksie se sukses beteken vir die span baie tot dusver, aangesien meeste van die musikante vir die eerste keer saamgewerk het aan ʼn Afrikaanse produksie. “Ons doen ʼn versameling oorpronklike liedjies, sowel as unieke interpretasies en weergawes van liedjieskrywers se werk wat dié groep musikante bewonder.”

Tradisionele Kaapse volksliedjies en liedjies deur Valiant Swart, Anton Goosen, Laurika Rauch en Amanda Strydom vorm deel van die produksie.

Die ander konsert het twee optredes wat albei plaasvind by die Kovsiekerk by die Universiteit van die Vrystaat op 15 Julie om 17:00 en 16 Julie om 12:30. Kaartjies beloop R150 per persoon. Kaartjies is beskikbaar op Computicket.

Besoek Die ander konsert se Facebook-blad. Besoek ook die Vrystaat Kunstefees se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.