Dis weer tyd vir die Nickel Kersmark!

Maak seker jy skryf die datum sommer nou reeds in jou dagboek neer – hier is 12 dae om jou Kersinkopies te doen! As jy in Pretoria en omgewing bly, moet jy nie dié fondsinsamelingsprojek misloop nie.

Die Nickel Kersmark word van 24 November tot 5 Desember 2021 elke dag tussen 09:00 en 18:00 in Zwavelpoort in die ooste van Pretoria aangebied.

Die Kersmark is Kungwini Welsynsorganisasie se grootste fondsinsamelingsprojek op hulle kalender waarna daar jaarliks met groot opwinding uitgesien word. Kungwini Welsyn, organisasie sonder winsbejag, ontvang slegs 55% van sy bedryfsuitgawes van die regering en maak dus staat op fondsinsameling om gelyk te breek. Die Nickel Kersmark

is nie net ʼn geleentheid om fondse in te samel nie, maar ook ʼn geleentheid vir die gestremde inwoners om hulle handewerk te verkoop asook plaaslike entrepreneurs om ʼn inkomste te genereer. Elke uitstaller staan ʼn gedeelte van hulle verkope af aan Kungwini Welsyn om by te dra tot die fondsinsameling en maak op só manier ʼn verskil in mense met gestremdhede se lewens.

Al die personeel – van tuinier tot verpleegster – spring elke jaar in om te help om die mark aanmekaar te sit en alles mooi en reg te kry vir die mark. Inwoners hou opgewonde al die bedrywighede dop en wil net hand bysit. Indien hulle gelukkig is, sal hulle dié jaar toegelaat word om by die mark te werk en selfs die mark met hulle families te besoek. Dit was in 2020 ongelukkig nie moontlik nie weens streng inperkingsmaatreëls rondom teen Covid-19. Vanjaar geld alle Covid-19-maatreëls by die mark soos uiteengesit vir vlak 1 van die afsonderingsregulasies en alle besoekers sal gevra word om aan dié riglyne te voldoen.

Ontspan daagliks heerlik in die tuin, geniet ʼn ietsie te ete en drinke vanaf die gelisensieerde restaurant en kom luister na Nightingale wat Saterdae en Sondae sal optree. Geskenke vir almal die Kersfees en selfs juffrou-geskenkies is te kies en te keur uit die verskeidenheid van uitstallers wat elke jaar net al hoe beter word. Dit is dus beslis ʼn geleentheid wat jy nie op die jaarlikse kalender wil misloop nie.

Kungwini Welsynsorganisasie bied behuising en mediese sorg vir 160 gestremde inwoners wat die fasiliteit hulle tuiste noem. Wees die lig in dié inwoners se lewe hierdie Kersfees en maak ʼn verskil deur die Nickel Kersmark en die liefdadigheidsorganisasie te ondersteun met hulle fondsinsameling.

Nickel Kersmark

24 November – 5 Desember, daagliks vanaf 09:00 – 18:00
Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging), Zwavelpoort, Pretoria-Oos
Soek gerus “Nickel Christmas Market” of “Kungwini Welfare Organisation” op jou padkaart-app op jou selfoon om veilig daar uit te kom.
Vir enige verdere navrae kontak ons gerus by 074 911 0006 of besoek ons webwerf by
www.nickelmarket.co.za.

Van die inwoners wat by die werkwinkel werk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.