Erfenisfees by die Voortrekker­monument

Kanonskoot (Foto verskaf deur Erfenisfees)

Die Voortrekkermonument vier hierdie jaar erfenismaand op Saterdag, 21 September. Op hierdie dag open die hekke vir die publiek om 09:00 en toegang is R30,00 per motor met veilige parkering op die terrein beskikbaar.

AfriForum borg nou al vir etlike jare die gaskunstenaars se optredes by die Fees en die 2019 Erfenisfees gaan ʼn heerlike gesinsdag vol interessante aktiwiteite en kultuurdemonstrasies wees.

Ons gaan brood in ʼn miershoop bak, kerse giet, mielies maal, botter maak en swepe vleg. Die Trekboervereniging bied ʼn tipiese Voortrekkeruitstalling met kakebeenwaens en pioniersgoedere op die terrein reg voor die amfi-restaurant aan en daar sal ook ʼn potjie op die vuur wees. Verder is daar demonstrasies van smeewerk en voorlaaier skiet, en selfs ʼn oumotor-versameling te sien.

Langs die Trekboervereniging sal verskeie aktiwiteite vir die kinders aangebied word, soos gesigverf, kettie skiet en verf op klei. Onder die amfi-dak sal stalletjies wees wat uitgesoekte handwerk, ingelegde produkte, tuisgemaakte happies en allerlei snuisterye verkoop.

Daar is ook ʼn biertuin op die dak met sitplek waar die Boeremusiekgilde die hele dag sal musiek maak. Kanon Susanna sal om 11:30 vreedsaam bulder en ons gaskunstenaar Jak de Priester sal om 12:00 optree. Feesgangers kan ook om 14:00 uitsien na ʼn gelukkige trekking vir twee uitstekende pryse.

In die restaurant onder die amfi-dak, sal daar grootskerm-TV’s wees vir die manne wat nie die Wêreldbekerrugby tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland wil misloop nie.

Daar is parkering vir gestremdes met rolstoele. Besoekers word gevra om asseblief nie hulle honde of ander troeteldiere saam te bring nie, aangesien die Monument in ʼn natuurreservaat geleë is.

Navrae aangaande die Erfenisfees kan aan Thea Furstenburg by [email protected] gerig word of gaan loer op ons Facebook-blad, Voortrekkermonument & Natuurreservaat vir die volledige program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.