Feestyd-doendinge in Kimberley

Kimberley is nie juis een van Suid-Afrika se tradisionele vakansiebestemmings nie, maar ʼn Desembervakansie in dié Noord-Kaapse stad hoef allermins vervelig te wees. Daar is meer as genoeg aktiwiteite om jou en die jongspan besig te hou dié feesseisoen.

Kimberley is ʼn stad vol geskiedenis. Dis mos hiér waar die fortuinsoekers destyds in die grond vir diamante gegrawe het. Die somervakansie is sommer die ideale tyd om Kimberley se ryke geskiedenis te leer ken.

Die Groot Gat

Jy kan wraggies nie die vakansie in Kimberley deurbing en nié die Groot Gat besoek nie. Dié gewilde toeriste-aantreklikheid is nie net ʼn indrukwekkende besienswaardigheid nie, maar bied ook heelwat aktiwiteite. Besoekers kan kies tussen ʼn verskeidenheid besigtigingstoere, ʼn ondergrondse ervaring beleef, verskeie winkeltjies besoek, by die Diamond Dig & Skittle Alley ʼn draai maak of by een van die lekker restaurante eet. Besoek die webwerf vir meer inligting.

(Foto: Facebook)

Kamfersdam

As jy gedink het Kimberley is vaal, dink weer. Kamfersdam se honderde pienk flaminke is ʼn onvergeetlike besienswaardigheid. Gaan kyk self! Klik hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Magersfontein-slagveld

Hoe lui Bok van Blerk se liedjie? Oor die toekoms van ons volk en veg ons nie sal ons verdwyn.
By Magersfontein, by Magersfontein, by Magersfontein.
Besoek die Magersfontein-slagveld in Kimberley vir ʼn baie interessante stukkie geskiedenis. Besoek dié webwerf vir meer inligting.

Foto ter illutrasie (Foto: Unsplash)

Kimberley Anne Small Luxury Hotel

Lus om so ʼn bietjie fênsie te wees? Jy kan gedurende Desember by dié viersterhotel gaan aansit vir ʼn besonderse koservaring. Besoek www.kimberleyanne.co.za vir meer inligting.

(Foto: Facebook)

Mokala Nasionale Park

Wie geniet nié ʼn wildbesigtigingsrit nie? Gaan ry deur die Mokala Nasionale Park om van ons land se mooiste wilde diere te sien waarna jy by die restaurant kan gaan stoom afblaas en oor die natuurreservaat uitkyk. Onthou jou verkyker! Besoek SANParke se webwerf vir meer inligting.

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

William Humphreys-kunsgalery

Lus om jou kultuurskoene so ʼn bietjie af te stof? Wat van ʼn besoek aan die William Humphreys-kunsgalery wat dateer van 1952. Besoek www.whag.co.za vir meer inligting.

(Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.