Foto’s: Die grootste rugbyversameling in private besit

Die ingang na die Ultimate Rugby Experience. Foto: Eunice Stoltz

In 1906, op ʼn toer na die Verenigde Koninkryk, vra ʼn verslaggewer die Suid-Afrikaanse rugbyspan wat sy naam is.

Sonder ʼn amptelike naam tóé, antwoord Paul Roos, die kaptein: “Ons is Springbokken.” Glo omdat die span so rats en vinnig soos ʼn springbokkie was. Só het die span én al sy opvolgers die naam Springbokke gekry.

Só vertel Theo Geustyn, stigter en eienaar van die Ultimate Rugby Experience op die Nooitgedacht Village-landgoed buite Stellenbosch. By dié unieke bestemming kan jy die Theo Geustyn Rugbymuseum besoek of in die aangrensende restaurant ontspan. Maar dit is veral die rugbymuseum met sy uitsonderlike en omvangryke versameling rugby-memorabilia wat besoekers lok.

Theo Geustyn. Foto: Ultimate Rugby Experience/Facebook

Wanneer jy jou eerste tree in dié museum gee, is dit ʼn foto van Joel Stransky se bekende skepdoel wat jou na die eindstryd van die 1995-Wêreldbeker-toernooi terugneem; of ʼn versameling van Ollie le Roux-rugbytruie wat jou laat voel soos ʼn toeskouer by die 1994-Springboktoer in Nieu-Seeland. Verouderde foto’s laat jou sit op die pawiljoen tydens toetsrugby in die 1960’s tussen die mans, almal met das en baadjie en hoed; of jy skree saam tydens die Britse en Ierse Leeus-toer van 1938 na Suid-Afrika. Jy stap met ontsag, want voor jou het rugbylegendes soos Gareth Edwards, Willie John McBride, Frik du Preez, Eben Olivier en Joggie Jansen ook dié unieke rugbyversameling besigtig.

Hoewel die Theo Geustyn Rugbymuseum een van die grootste rugbymuseums in die wêreld is en spog met die grootste rugbyversameling in private besit, verkies Theo om dit nie ʼn museum te noem nie. Volgens hom skep “museum” die idee van ʼn biblioteek waar jy net moet lees en tjoepstil wees. Vandaar die naam Ultimate Rugby Experience.

“Nee, hier kan mense ontspan,” sê hy. Daarom, wanneer jy dié goudmyn van inligting en vermaak met sy meer as 800 stuk rugbygedenkwaardighede ontgin het, kan jy rustig sit en alles in die aangrensende restaurant herkou.

Memorabilia teen van die mure. Foto: Eunice Stoltz

“Mense stap hier deur, sit en eet of drink iets en dan gaan hulle weer terug na die uitstallings. Hier is soveel inligting dat die meeste mense sê hulle kan nie alles in een dag inneem nie. Hulle kom terug en weer terug,” vertel Theo.

Die gedenkwaardighede is ʼn samevoeging van Theo en Choet Visser, die stigter van die Choet Visser Rugbymuseum in Bloemfontein. Ná sy afsterwe het sy kleinseun, Nico du Plessis, die versameling geërf. Eers heelwat later het Theo vir Nico genader om sy en Choet se memorabilia saam uit te stal. Waar Choet se versameling ʼn vroeëre era verteenwoordig, dek Theo s’n die meer onlangse geskiedenis.

Die oudste trui tans in die versameling is die 1921-trui van Sias de Kock. “Hy het losskakel-senter vir die Springbokke teen die All Blacks gespeel. Hulle het gaan toer daai jare. Dan was dit ses maande uit die land uit waarvan twee en half maande op die boot was soontoe en terug en dan speel hulle 25 of 26 wedstryde.”

Dit is ook nie net truie wat dié ervaring ultimate maak nie. Daar is die knikkopbeeldjies van die 1995-Wêreldbeker se All Blacks-span; koerantberigte, pette, rugbyfoto’s vanaf 1888; tot selfs werke van die spotprenttekenaar Len Lindeque. Die lys gaan aan.

ʼn Klein gedeelte van die rugbytrui-versameling. Foto: Eunice Stoltz

ʼn Passie en missie

“Om die ouer items in die hande te kry is ongelooflik moeilik. Die meeste Springbokke van daardie jare is al dood en hulle goed is aan kinders en kleinkinders gegee. Maar dit is een van my groot passies om dit in die hande te kry.”

Theo is in Bloemfontein in die Vrystaat gebore en getoë. Hy was in Grey Kollege op skool en het sy BCom-studie aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. “Ek het rugby gespeel, maar die kompetisie was maar taai. My eintlike sport was krieket.”

Ollie le Roux tydens die 1994-Springboktoer in Nieu-Seeland. Foto: Eunice Stoltz

Op tienjarige ouderdom het Theo al plakboeke oor die Franse rugbytoer van 1967 na Suid-Afrika begin bymekaarsit. Dit het vinnig oorgegaan na die versameling van rugbytruie. Hiermee het spelers soos Gysie Pienaar, Theuns Stofberg en André Venter hom gehelp. Martiens le Roux, wat destyds vir die Vrystaat en later vir die Springbokke voorry gespeel het, was altyd bereid om te help met die uitruil van plaaslike en oorsese truie.

“My missie is om daai ou goed van die ou rugbyspelers uit hul kaste en tasse te haal en hier vir die publiek ten toon te stel en dit te bewaar.”

Hy huiwer wanneer ʼn mens hom vra wat sy gunstelingversamelstuk is. “Al die items hier is vir my spesiaal. Buiten die ou Springboktruie is die Britse Leeutrui-versameling uit al die reekse wat hulle van 1938 tot 2009 teen die Springbokke gespeel het, ook baie spesiaal. Wat interessant is, is dat die Britse Leeus tot 1938 in ʼn blou trui gespeel het. Van ná die 50’s het die Leeutrui rooi geword.”

Die werke van die spotprenttekenaar, Len Lindeque. Foto: Eunice Stoltz

ʼn Ensiklopedie

Vir Theo is rugbygeskiedenis soos ʼn tweede taal. “Vir amper tien jaar tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar eintlik geen Springbokspan nie. Interessant genoeg, gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hulle wat hulle genoem het die 6th Battalion in Italië gehad.”

Hy verduidelik dit was spanne wat uit soldate van verskillende lande bestaan het en in nie-amptelike toetse kragte teen mekaar gemeet het. “Ek weet daar was so ʼn nie-amptelike toets tussen die Springbokke en All Blacks, maar dan in weermaggedaante.

“Hier is ongelooflike truie, soos die 1928- Boy Louw-trui, die 1931- en 1932-Springboktruie na die VK toe en 1937-truie wat baie spesiale Springbokrugby was. Hulle word gereken as die wêreldkampioene voor die Tweede Wêreldoorlog, want ons het geen toets verloor voor die oorlog nie.”

Vir die hele land

Rugbylegende, Frik du Preez. Foto: Eunice Stoltz

Toegang tot die Theo Geustyn Rugbymuseum is gratis. Wanneer iemand ʼn donasie wíl gee, word dit aan die Chris Burger-Petro Jackson-rugbyspelersfonds geskenk. Dié fonds verskaf steun op alle vlakke van die sport aan rugbyspelers wat ernstige en lewensveranderende beserings opgedoen het.

“Ek dink sport lê ons baie na aan die hart. Ons is maar ʼn rugbyland. Die agtergrond waaruit ʼn mens kom, spesifiek skole soos Paul Roos, Grey Kollege, Affies [Afrikaanse Hoër Seunskool], ʼn Bishop’s [Kollege], gee vir jou soveel kultuur en passie. Nie net in rugby nie, maar in jou lewe ook. Dit gee vir jou rigting in die lewe en die passie om dinge te doen. Soos Francois Pienaar ná hulle die Wêreldbeker in 1995 gewen het, gesê het: ‘Ons speel nie net vir die mense in die stadion, die 45 000 of 80 0000 mense nie, it’s for the whole country.’”

Gaan die Springbokke vanjaar die Wêreldbeker wen? Theo twyfel nie. “Ons weet die beker kom terug Suid-Afrika toe. Hulle het ʼn goeie kans. Meer as ʼn 50%-kans om te wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.