Geleentheid vir markuitstallers by KragDag

KragDag 2019 (Foto verskaf aan Maroela Media)

Solidariteit Helpende Hand wil voorspoed verseker en entrepreneurs bemagtig wat hul inkomste weens die Covid-19-pandemie verloor het.

Helpende Hand bied vanjaar ʼn Omgee-mark aan wat saam met die immergewilde Sakeliga KragDag gehou gaan word. KragDag is die grootste alternatiewe-energie-ekspo in die land en bied jaarliks ʼn uitstalgeleentheid vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings.

Die Omgee-mark en KragDag vind vanjaar van 14 tot 16 Oktober by die Diamantvallei Landgoed in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria, plaas. Meer as 21 000 besoekers het KragDag in 2019 besoek, en dit word vanjaar vir die twaalfde keer aangebied.

“Helpende Hand het besluit om vir markuitstallers, wat deur die Covid-19-inperking geraak is, ʼn snuffelmark te skep waar hulle hul produkte kan verkoop,” sê René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie. “Die afgelope tyd was uitdagend, en dit het ons entrepreneurs wat by markte uitstal of hul handgemaakte items van die huis af verkoop erg beïnvloed. Die beweegrede agter die Omgee-mark is om hierdie entrepreneurs die blootstelling en platform te gee wat hulle verdien, asook vir die publiek ʼn ideale geleentheid te skep om weer in die buitelug saam met hul geliefdes tyd te bestee.”

Die ekspo het in 2008 ontstaan toe alternatiewe vir Eskom-kragvoorsiening nog nie vrylik vir die publiek beskikbaar was nie en KragDag slegs ʼn handjievol kragvoorsieners bymekaargebring het. Dit het egter gegroei tot ʼn ekspo wat vandag vir besoekers ʼn verskeidenheid doen-jou-eie-ding-leefstyloplossings – waaronder energiebesparing, sonkrag, veiligheid, nuwe tegnologie, opvoedkunde, buitelugkragtoerusting, en vele meer – bied. Hoewel dit ʼn leersame geleentheid is, bied dit ook ʼn karnavalatmosfeer wat pret vir die hele gesin verseker.

Daar is ook vermaak vir die res van die gesin met ʼn groot verskeidenheid kosstalletjies, ʼn biertuin vir diegene wat hul dors wil les en ʼn speelpark en boeresport vir die kinders. Daar word ook weer ʼn volwaardige landbousubekspo in samewerking met die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) beplan, wat die enigste landbou-ekspo vir 2021 is.

Besoek www.kragdag.co.za vir meer besonderhede oor alles wat jy vanjaar by die ekspo kan verwag. Die normale koste om by die snuffelmark uit te stal is R1 610, maar indien jy ʼn Solidariteit Helpende Hand-lid word of is, kry jy dit teen R805 (dus 50%-afslag) per stalletjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.