Groot pret en opwinding binnekort by Vrystaat-fees

Is jy lief vir goeie musiek, lief vir heerlike kos, lief vir rugby kyk, lief vir yskoue wyn en bier? Dan gaan jy beslis lief wees vir die Ek ♥ die Vrystaat-fees! Dié fees is op pad met topkunstenaars insluitend Robbie Wessels, Monique Steyn, Dewald Wasserfall, Jay, Lianie May, Leah, Ampie, Tussen Sterre, Gretha Pers, Zamar, Jemma, Joe Foster, Dillon Lerm, Steyn Fourie en Nadine wat jou vanaf 12:00 die middag gaan laat fees vier!

Verwyder die gewig van jou skouers en kom fees saam. Dit is ʼn dag vir die hele familie. Ons gaan skoffel, ons gaan lag, kuier en dans want te veel van die Vrystaat is fantasties! Dit is ʼn feit soos ʼn koei, hierdie gaan een onvergeetlike dag wees!

Die fees is hier om te vermaak want Afrikaners is mos plesierig gebore! En onthou, kinders onder 12 kry gratis toegang. Hekke maak alreeds 09:00 oop.

Veertien kunstenaars, interessante kosstalletjies, wyn en grootskermrugby, wat meer wil ʼn mens dan hê? Bring jou kampstoel en kombers en kom geniet die dag saam met ons in Vrystaat-styl. Niks minder kan verwag word van vanjaar se vierde Vrystaat-fees nie. Maak dubbel seker jy teken 22 September in jou dagboek aan!

Soveel paaie loop na Bloemfontein en die Vrystaters was uitgehonger vir hulle eie unieke Afrikaanse fees en toe word Ek ♥ DIE VRYSTAAT FEES gebore.

Kuier nog tot laat by die “after party” ná 22:00 … niemand hoef vroeg huis toe te gaan nie!

Hierdie jaar se informele fees maak dit anders as voorheen. Dit bring Afrikaners bymekaar om in hul eie taal onder mekaar te kuier, te dans, saam te sing en bietjie Vrystaatse samesyn te deel.

As jy ’n plesierige Afrikaner is, wat hou van kuier, lag en goeie musiek, val die grootste musiekfees in die Vrystaat beslis so reg in jou kraal. Sien jou daar!

EK LIEF DIE VRYSTAAT FEES
SATERDAG 22 SEPTEMBER
BAINS GAME LODGE BLOEMFONTEIN
KAARTJIES BY COMPUTICKET

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.