Heidelberg vier Varkfees

Foto verskaf deur Varkfees

September is om die draai en dit beteken net een ding … dis Varkfees-tyd! Die 14de Varkfees word vanjaar op 6 en 7 September gehou en beloof om vir almal, oud en jonk, groot pret en plesier te verskaf.

Die Varkfees is 14 jaar gelede begin deur ʼn klein groepie mense wat ʼn fondsinsameling gehou het om die Gr 1-parkie op te gradeer. Die Varkfees het intussen gegroei van ʼn skamele 1 000 feesgangers na 15 000 mense oor die twee dae. Hierdie jaar gaan dit nog groter en beter wees.

Hier in Heidelberg kan almal die fees kom geniet en hulself verlustig aan die natuurskoon van die Suikerbosrand. Stadsjapies kan hier in Heidelberg hul skoene kom uitskop en ontspan. Heidelberg met sy vriendelike inwoners, mooie argitektuur en natuurskoon maak ons dorp die perfekte plek vir so ʼn jolige fees, sê die organiseerders.

Feesgangers kan aktiwiteite geniet soos die Mpumalanga Jeugskou met plaasdiere, “Quadbike Outrides”, skouperdvertoning en perderitte. ʼn Akrobatiese lugvertoning gaan feesgangers se asems wegslaan! Die SA Gidshond-vereniging doen ook ʼn bekendstelling aan die publiek.

Foto verskaf deur Varkfees

Hierdie jaar bied die Varkfees ook die Eskort Knoop jou Veters vir Kanker-halfmarathon aan. Deelnemers kan die 21.1 km kom draf of aan die 5 km-draf/stap deelneem. Alle fondse gaan aan kanker in en om die Heidelberg-gemeenskap. Varkfees gee aan elke deelnemer gratis toegang na die fees om dankie te sê vir hul bydrae.

Vir die jeug is daar hope vermaak en pret. Hulle kan hierdie jaar deelneem aan die Varkie-Chef-kompetisie waar hulle hul vernuf kan kom wys om kreatiewe diere uit kos te maak. Daar is ook ʼn Eskort Hotdog-eet-kompetisie waar ons gaan vasstel wie kan die vinnigste ʼn aantal warmbrakke verslind.

By die Eskort Varkfees gaan daar ʼn groot verskeidenheid kunstenaars wees en ongeveer 200 stalletjies met interessanthede wat sal sorg dat jy deurgaans besig bly. Eskort het ʼn “Food Court” met heerlike kos van hul produkte om aan te smul. Dit gaan verseker liplekker wees.

Foto verskaf deur Varkfees

Kom kuier Vrydag saam met Dirk vd Westhuizen, Snotkop, Jan Bloukaas en nog ander topkunstenaars. Saterdag kan jy kom lyf skud saam met Jay, Jo Black en die mooie Karlien van Jaarsveld om net ʼn paar te noem. Jou toegangskaartjie sluit al die vertonings van kunstenaars in.

Eskort Varkfees Heidelberg is ʼn fees vir almal om te geniet in die Oos-Rand, Vaaldriehoek, Oos-Vrystaat en Mpumalanga. Maak gebruik van die “Fly-In”-opsie, daar gaan geen landings- of parkeringsfooie gehef word nie. Die fees gaan een vir die boeke wees, so kry jou kaartjie nou reeds by Ticketpros. Sien julle daar!

Besoek gerus die webwerf www.varkfees.co.za vir die volledige program en sluit aan by die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.