Ikoniese Suid-Afrikaanse kuns uitgestal

'Portret of a young Malay girl' (1939) deur Irma Stern.

‘Portret of a young Malay girl’ (1939) deur Irma Stern.

Die Suid-Afrikaanse finansiëledienstegroep, Sanlam, vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar en om dié merkwaardige mylpaal te vier word ʼn uitstalling met kunswerke uit een van die land se grootste kunsversamelings eersdaags in Bloemfontein gehou.

Die Centennial-uitstalling bestaan uit 70 ikoniese kunswerke uit die Sanlam-kunsversameling, en sluit werke deur prominente Suid-Afrikaanse kunstenaars van die 20ste eeu soos Irma Stern, Dumile Feni, Walter Battiss, Alexis Preller, Penny Siopis, Christo Coetzee, Gerard Sekoto, Sydney Kumalo en JH Pierneef in.

Die storie wat die uitstalling poog om te vertel, is die storie oor Suid-Afrika se geskiedenis sowel as die veranderende rol van kuns. Vanaf die kalm landskapskilderye van die 20’s, tot kuns as ʼn manier om te identifiseer in die 50’s en 60’s, en kuns as die taal van die struggle in die 70’s en 80’s, het die rol van kuns ontwikkel, sowel as die mediums van uitdrukking.

Stefan Hundt, kurator van die Centennial-uitstalling, het luidens ʼn mediaverklaring gesê terwyl dit maklik is om ontnugter te raak deur die negatiwiteit in die nuus, het die Suid-Afrikaanse landskap vele veranderinge oor die afgelope 100 jaar ondergaan en kuns is een van die mees getroue barometers wat dié reis dokumenteer.

'Running on the Eastern Side' (1984) deur Helen Sebidi.

‘Running on the Eastern Side’ (1984) deur Helen Sebidi.

“Hierdie uitstalling is ʼn manier om mense te herinner aan die grootste verskuiwings wat ons nasie beleef het soos vertel deur die kunstenaars wat verandering voorgehou het. Kuns het ʼn belangrike rol gespeel in die realisering van ʼn demokratiese en vrye Suid-Afrika en dit is net soveel ʼn manier om ons verskille uit te wys as om ʼn gedeelde visie vir ons toekoms te skep,” het Hundt gesê.

Mariska Oosthuizen, hoof van die Sanlam‑handelsmerk, het gesê die eeufeesviering is ʼn manier om terug te kyk op Suid-Afrika se geskiedenis, maar ook ʼn manier om na die toekoms te kyk. “Ons fokus daarop om ʼn beter wêreld vir volgende generasies te skep en ʼn groot deel hiervan is om ons kulturele rykdom te deel om ons nasie in staat te stel om te reflekteer op ons erfenis en die toekoms wat ons saam wil bou.”

Sy het bygevoeg dat Sanlam se kunsversameling uit meer as 2 000 werke bestaan wat nog altyd aan die publiek beskikbaar gestel is. “Dit is ons voorreg om van Suid-Afrika en Afrika se prominentste kunstenaars uit te lig.”

Die uitstalling open op Donderdag 14 Maart by die hoofgebou van die Oliewenhuis‑kunsmuseum in Bloemfontein en sal oop wees vir die publiek tot Sondag 28 April; op Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:00 en oor naweke en openbare vakansiedae van 09:00 tot 16:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Saartjie ·

Hopelik maak Sanlam dit ‘n reisnded uitstalling sodat die res van die land darem ook hierdie uitsonderlike versameling te siene kan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.