Innibos 2017: Kry nóú kaartjies

Innibos (Foto: Facebook)

Kaartjieverkope vir die jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het amptelik op 5 Mei geopen.

Innibos, wat vanjaar tussen 5 en 8 Julie in Mbombela (Nelspruit) aangebied word, het onlangs vir die derde agtereenvolgende jaar die kykNET Fiësta-toekenning vir die gewildste kunstefees in die land gekry.

Hoogtepunte op vanjaar se toneelprogram sluit in verhoogproduksies soos So ry Miss Daisy met Sandra Prinsloo en John Kani, Die nag van Legio uit die pen van P.G. du Plessis met onder andere André Roothman, Gerben Kamper en Deon Lotz, en die debuutproduksie Altaar met Christia Visser en Crystal-Donna Roberts in die rolverdeling.

Schalk Bezuidenhout, Soli Philander, Dowwe Dolla en Casper de Vries is ook te sien in die Lekkerlag Komedie-crawl-produksie.

By die ATKV-Boeke-oase word verskeie boekgesprekke aangebied, en Etienne van Heerden stel sy nuwe boek, Die wêreld van Charlie Oeng, bekend.

Op die musiekfront kan feesgangers uitsien na Elvis Blue met sy produksie Kaal, Jak de Priester in 15 jaar met klavier en kitaar en Stef Bos met sy produksie Bos innie Bos.

ʼn Musiekkonsert elke aand op die Standard Bank-hoofverhoog is ingesluit by die toegangskaartjies na die feesterrein.

Die volledige feesprogram is beskikbaar op die Innibos-webwerf. Bespreek jou kaartjies by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.