Innibos ook ʼn fees vir die jongspan

By die SPAR Woelwatersentrum sal die kleinspan hulself gate uit geniet. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

By die SPAR Woelwatersentrum sal die kleinspan hulself gate uit geniet. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

As jy en jou jong kroos julself die komende naweek in die Laeveld bevind, maak gerus ʼn draai by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees waar die SPAR Woelwatersentrum vir hope pret en plesier vir die kleinspan sal sorg.

Kinders kan ʼn vermaakprogram propvol aktiwiteite, uitvoerings deur sangers en kulkunstenaars en bak-en-brou-pret verwag. Daar is ook ʼn daaglikse kinderoppasdiens beskikbaar.

David Drehspul, bekend as David Dee die kulkunstenaar, asook Swannie Swanepoel as Koning Karel Skilpad, maak vanjaar ʼn draai by die SPAR Woelwatersentrum om die jongspan te vermaak. Wiebke Holm-Mikula en Paul Mikula is ook te sien as Heather Leadfeather en Ivan Ironguts in verhoogproduksie van Die Draak en die Nar.

Kizzoo vermaak die jong gehoor. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Kizzoo vermaak die jong gehoor. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Buster die brak (met die stem van Hendri Myburgh) is terug en dié keer ontmoet hy vir Bella (met die stem van Lianie May), sy aangenome marmotsussie. Op hul nuwe avontuur ontdek hulle die Heilige Gees as ʼn beste vriend en helper wat hulle lei om hul unieke talente te ontgin.

Kinders word geleer van lofprysing, gebed, God se Woord en ander kragtige wapens teen die aanval van die vyand. Boelie as tema word aangespreek en waardes word speel-speel geleer. San-Marie Nel is ook in dié uitvoering te sien.

Derick Lennox, Dean van de Ventel en Michael Elroy Khosaal is te sien in Kizzoo – My nuwe wêreld. Kizzoo is ʼn ruimtekuiken wat sy huis op Mars verlaat en aarde toe kom om meer van ons wêreld te leer. Hier op aarde beleef hy allerlei opwindende avonture.

Die leeshoekie. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Die leeshoekie. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Opgewekte musiek en ritmiese danspassies is deel van die pret, terwyl interessante karakters vrolike vermaak vir die kleinspan verskaf. Onderwerpe soos die alfabet, padveiligheid, seisoene en higiëne word met pret en humor hanteer.

Huletts sorg vanjaar weer vir die kolwyntjiepret. Heerlike kolwyntjies, wat deur die VLU gebak is, wag net om versier te word deur kreatiewe vingertjies en deur gretige mondjies opgeëet te word.

Daar is ook tafeltjies en stoeltjies waar die kleinspan na hartelus kan inkleur en verf, knip en plak, met klei speel en blokkies bou. ʼn Springkasteel sorg dat die kleintjies van hul energie ontslae raak. Daar is ʼn leeshoekie met skattige kinderboekies beskikbaar vir die boekwurmpies.

'n Dogtertjie verf na hartelus. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

‘n Dogtertjie verf na hartelus. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Die ATKV Laeveld-tak bestuur die aktiwiteite en ouers kan hul woelwaters met ʼn geruste hart in die bekwame hande van Louis en sy knap span laat. ʼn Kinderoppasdiens is ook daagliks beskikbaar vir ouers wat graag na ʼn produksie wil gaan kyk of die kunsuitstallings bywoon. Vir die kleinspan wat ingeteken is, is daar tydens middagete heerlike eetgoed beskikbaar.

Daar is ook ʼn oppasdiens in die aand waar DVD’s, inkleurgoed en speletjies gebruik word om die kinders besig te hou. Daar is matrassies waarop hulle kan slaap. Bekwame personeel sien teen ʼn billike tarief om na die kinders.

Toegang tot die Woelwatersentrum is ingesluit by die dagtarief. Vir navrae oor die koste van die oppasdiens, skakel 082 321 6311. Vir meer inligting, besoek Innibos se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.