Inskrywings weer oop vir nuwe Mej. SA

Mej. SA 2020 se drie wenners, Thato Mosehle, Shudufhadzo Musida en Natasha Joubert (Foto: Verskaf)

Die soektog vir ʼn nuwe Mej. Suid-Afrika, om in die voetspore van vorige wenners soos Zozibini Tunzi, Demi-Leigh Tebow en Tamaryn Green te volg, het begin.

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het pas aangekondig dat inskrywings vir dié kompetisie van vandag (24 Mei) om 19:00 oop sal wees. Inskrywings sluit op 24 Junie om middernag.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê die Mej. Suid-Afrika-handelsmerk skep stemme van leierskap vir die wenners, maar ook vir die jong kandidate en finaliste wat gebruik maak van die platform.

“Met die fenomenale groei en impak van die Mej. Suid-Afrika-handelsmerk, en die groot belangstellings sedert Zozibini Tunzi se wêreldwye triomfeer [as Mej. Heelal 2020], word duisende inskrywings verwag van hoopvolle kandidate regoor die land.”

Inskrywings vir Mej. Suid-Afrika 2021 kan aanlyn gedoen word by www.misssa.co.za. Geen oudisies sal in persoon plaasvind nie. Kandidate moet op die webwerf ʼn paar vrae antwoord, foto’s van hulself verskaf, en ook ʼn bekendstellingsvideo op sosiale media plaas met die hutsmerk #MissSA2021.

Vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie sal in Oktober plaasvind, waartydens Shudufhadzo Musida haar kroon aan die volgende skoonheid sal oorhandig. Daarna sal Shudufhadzo in Desember aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Puerto Rico deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.