Inspirerende koorfees weerklink weer by Taalmonument

Foto verskaf deur die Taalmonument

Danksy die geliefde koorfeeste van die afgelope twee jare, vind die derde groter-en-beter Taalmonument Koorfees op 14 Maart 2020 plaas waartydens kore hul beste note gaan voorsit as deel van die monument se 45ste verjaardagvieringe.

Vanjaar is daar boonop vyf musikale sterre – Brittany Smith (sopraan), Christine Bam (mezzosopraan), Simphiwe Mayeki (bas), Andile Tshoni (tenoor) en Kaapse Operakoor Maestro Marvin Kernelle – wat die verhoog gaan deel om die geleentheid selfs meer spesiaal te maak.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Bam, mede-organiseerder en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ʼn lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ʼn geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope fondse in te samel, terwyl dit vir leerders, hul gesinne en die wyer publiek ʼn kans gee om hul musiekliefde met mekaar te deel.

Die elf kore wat deelneem is Laerskool Brackenfell Juniorkoor, Laerskool Brackenfell Seniorkoor, Hoërskool De Kuilen Meisieskoor, Hoërskool Edgemead Massakoor, Laer Meisieskool La Rochelle Juniorkoor, Laer Meisieskool La Rochelle Seniorkoor, Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoërskool Namakwaland, Paarl Primêre Seunskool Juniorkoor, Voce Armoniche Gemeenskapskoor en William Lloyd Primêr.

Die Taalmonument Koorfees word in die Amfiteater op Paarlberg aangebied, en spys- en drankstalletjies sal beskikbaar wees. Hekke open om 17:00 en die koorsang begin om 18:30. Kaartjies (R120 vir volwassenes, R60 vir kinders onder 12) kan by Computicket of die Amfiteater se hek gekoop word. Besoekers word versoek om warm klere saam te bring. Helaas word geen vure, honde, eie kos of drank toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede en die Taalmonument se 45ste verjaardagvieringe in 2020, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Kry die kore ook ‘n happie uit die inkomste koek? Ek het lank koor gesing en ons het altyd verniet moes optree. Siende dat daar ‘n stewige toegansfooi is sou ek net reken dat die kore ook iets moet kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.