Klein begin, groot gewin vir Kleine Rijke

Kleine Rijke. (Foto: Lizagrace Fotografie)

Die lus om te skep, ʼn plaas wat aan Andries Pretorius behoort het (ja, die einste een na wie Pretoria vernoem is), en entrepreneurskap het gelei tot die ontstaan van Kleine Rijke. Dié plek het dalk ʼn beskeie begin gehad, maar ʼn groot toekoms wag op die unieke plek.

Op Kleine Rijke, die familieplaas neffens die Pecanwood-landgoed naby die Hartbeespoortdam, het Jasmyn Pretorius en die meubelontwerper en selfopgeleide argitek David Krynauw aan hul droom begin bou. Pretorius vertel dat die plaas al 200 jaar in haar familie se besit is en dat Andries Pretorius die plaas van Paul Kruger gekoop het, “in ruil vir ʼn vers, ʼn gesoute perd en ʼn geweer”.

Die eerste ding wat jou van die argitektuur van die bouwerk opval is die hoë houtboë wat bo-oor die spierwit mure van die saal span. Die boë benadruk die naam, tema en die ontwerp in die Kaaps-Hollandse styl. Pretorius wou eers ʼn kosmark op Kleine Rijke begin. “Ek was ʼn kunsregisseur  in Johannesburg, maar ek glo die Here het my daar uitgehaal en teruggebring na my ouerplaas toe om iets te skep.

“Ek het gespeel met die idee om ʼn onthaalsaal te begin, maar ʼn vriend het gesê dit gaan duur wees en voorgestel dat ek met ʼn kosmark begin. Ek het toe hard aan die werk gespring met die idee. Ek het die naam gekies en embleem ontwerp lank voordat die gebou opgerig is.”

Die eerste kosmark is op 6 Oktober 2018 aangebied. Preotrius beskryf dit as ʼn geseënde dag wat elke verwagting oortref het. Daar was kosstalletjies, ʼn produktewinkel, ʼn koffiekroeg en musikante.

ʼn Volhoubare mark het egter nie gerealiseer soos wat sy gehoop het nie en sy het besluit om “dit in die Here se hande te laat”.

Sy het egter reeds aan ʼn ander sakeplan vir die familieplaas begin werk nadat haar suster gevra het of sy in die ou skuur op die plaas kan trou.

Gou het hulle besef dat die ou skuur nie die 220 gaste by die troue sou kon akkommodeer nie en die stoor is gesloop.

“Dit was woes. Ons het amper 80 mense gehad wat deel van die projek gevorm het, en talle slapelose nagte. Uit die aard daarvan het die projek uit liefde ontstaan, liefde vir my herkoms, liefde vir die projek en liefde vir wat dit beteken,” sê Krynauw.

Binne net drie maande is die nuwe Kleine Rijke-gebou ontwerp en opgerig en is daar groot troumakietie gehou. Die eerste amptelike Kleine Rijke-troue is vanjaar op 13 April gehou.

Kleine Rijke kapel. (Foto: Verskaf)

Kleine Rijke is ontwerp deur Krynauw en Khanya Architects van Piet Retief. Dit was Krynauw se eerste projek as argitek en hy het vroeër vanjaar met die #Loeries2019 se vername Grand Prix vir ontwerp in argitektuur vir die ontwerp van dié gebou weggestap.

Dis ook hier waar hy sy “Joburg”-metode geslyp het. “Die metode is ʼn ‘taal’ wat ek geskep het om vir enigiemand wat vir my onderneming kom werk te leer hoe om die meubels te maak – van ontwerp en spesifikasie tot die uitvoering van die ontwerp. Dit stel die hele span in staat om te weet presies wat om te doen. Die reëls van die taal bepaal die estetiese sy van die ontwerpe. Ons herkoms het soveel diepte en die meubels wat ons as kinders geken het, is iets wat ek nog altyd wou interpreteer.”

Pretorius sê dat die markte voorlopig laat vaar is omdat sy en Krynauw hul energie nou fokus om ʼn sakeonderneming op die been te kry en tans staan hulle reg vir talle gesellighede. Hulle het intussen ʼn opelug kapel aangebou, met die Magaliesberge aan die oewer van die Hartbeespoortdam as agtergrond. “Maar ʼn verjaardagmark is ongetwyfeld ʼn moet!”

Op 5 Oktober hou die Kleine Rijke-span dié feesvieringsmark met kosstalletjies en ʼn produktewinkel gevul met plaaslike ontwerpe, klere en juwele. Tydens dié mark word drie werksessies aangebied deur Vos & Ink, Greyroom en Jana Nel, terwyl Krynauw, Nel en Skaam hul werk gaan ten toon stel. Die digter en skrywer Ané Kotzé, ook bekend as Kaalwoorde, gaan haar werk op die dag voorlees.

Musikante wat optree sluit Faraway George, Jana-Marie en Niel Markgraaff in.

“Kom geniet die dag saam met ons, veral omdat ons nie weet wanneer ons weer ʼn mark sal hou nie. En bring jul honde want ons het ook vir hulle roomys,” sê Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kleine rijke aanhanger ·

Wat n ongelooflike pragtige plek!! Baie geluk met julle toekenning en baie sterkte vir die toekoms. Die Here gaan julle lei en julle seen met elke besluit wat julle moet neem!

Koos ·

Mooi storie, maar ek dink regtig nie daai plaas is al tweehonderd jaar in die familie se besit nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.