Kom vier fees in die Vrystaat

Dit is amper tyd vir die vierde Ek DIE VRYSTAAT FEES in Bloemfontein en hierdie een gaan nog beter en groter wees as vantevore. Skryf dus 22 September 2018 in jou dagboek neer en maak seker dat jy en jou gesin nie die kuier-van-die-jaar by Bains Lodge misloop nie!

Oudergewoonte kan feesgangers verwag om 14 van die beste Afrikaanse kunstenaars in die land, asook interessante stalletjies, heerlike wyn en ander drankies, en die lekkerste kos en snoeperye op die platteland by dié geleentheid raak te loop. Daar gaan selfs rugby op die grootskerms wees!

“Die idee vir die Ek DIE VRYSTAAT FEES het ontstaan omdat Bloemfontein die mees sentrale punt van ons land is en geen Afrikaanse konserte gehuisves het nie,” sê feeseienaar, Leon Pheiffer. “Soveel paaie loop na en deur Bloemfontein na die res van die land en die Vrystaters was uitgehonger vir hulle eie unieke Afrikaanse fees. Dit gaan ’n heerlike familie-kuierdag wees, propvol Bloem-baldadigheid, met kunstenaars op die verhoog, die kroning van Mej. Ek ♥ DIE VRYSTAAT, kos- en wynstalletjies en vele meer.”

Feeshekke sal reeds vroeg op die dag open en besoekers sal deur die loop van die dag deur sterre soos Robbie Wessels, Leah, Ampie, Jay, Lianie May, Nádine, Joe Foster, Tussen Sterre, Monique Steyn, Dillion Lern, Gretha Pers, Steyn Fourie en Jemma vermaak word. Daar sal ook om 22:00 ʼn “after partywees saam met Dewald Wasserfall. Niemand hoef vroeg huis toe te gaan nie!

“Hierdie jaar se informele fees maak dit anders as voorheen. Dit bring Afrikaners bymekaar om in hul eie taal onder mekaar te kuier, te dans, saam te sing en bietjie Vrystaatse samesyn te deel. Elkeen kan sy eie stoel en kombers bring en kan eet en drink van vroeg tot laat – met kinders wat oral rondhardloop en baljaar, terwyl die ouers ten volle kan ontspan,” voeg Pheiffer by.

KRY JOU KAARTJIES!

Kaartjies vir die Ek DIE VRYSTAAT FEES is beskikbaar by Computicket of by die hek (behalwe vir spesiale pakkette). Kinders onder 12 kry gratis ingang. Pensionarisse betaal slegs R100.

As jy ’n plesierige Afrikaner is, wat hou van kuier, lag en goeie musiek, val die grootste musiekfees in die Vrystaat beslis so reg in jou kraal. Sien jou daar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.