Kuier saam by die karavaan-, kamp- en bestemmingskou

Karavaan, Kamp en Bestemmingskou

Buitelewe-entoesiaste moet solank ʼn aantekening in hul dagboek maak vir die Karavaan-, kamp- en bestemmingskou wat in Februarie by die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand aangebied word.

Die skou het homself die afgelope paar jaar gevestig as dié buitelewe-skou in die land en bied produkte en uitstallings van hoogstaande gehalte vir alle ouderdomsgroepe wat van die buitelewe hou.

Die verskeidenheid van produkte gee aan besoekers die geleentheid om te kies en te keur en om te verseker dat hulle op produkte besluit wat aan hulle die beste gaan bied. ’n Groot trekpleister van die skou is die hoeveelheid nuwe produkte wat tydens die geleentheid bekendgestel word en wat vir die heel eerste keer deur die publiek gesien en ervaar kan word.

Net so belangrik is die heerlike ontspanne atmosfeer wat deur die organiseerder, Hampie de Kock, en sy span saam met die uitstallers geskep word. Jou volgende buitelewe-vakansie begin eintlik al by die skou! Besoekers kry ook die geleentheid om groot pryse te wen wat wissel ván vakansies tot buitelewe-toerusting wat baie handig te pas gaan kom as jy volgende keer in jou woonwa of tent gaan ontspan.

Pretoria FM is as naamborg en radiovennoot by die skou betrokke. “Pretoria FM se fokus is op ons mooi taal en kultuur, maar ook op gesinne en geleenthede vir gesinne en families om meer kosbare tyd op ’n doeltreffende wyse saam deur te bring.”

Karavaan, Kamp en Bestemmingskou

Daar is nie ’n beter plek as ons pragtige bosveld om om die kampvuur te ontspan, ons majestueuse berge en groen valleie te beleef of saans jou oë toe te maak wanneer ons betowerende riviere of branders in jou ore druis nie.

Suid-Afrika is skatryk aan natuurskoon en om so na as moontlik aan die natuur te kom, het jy ’n woonwa onder ’n groot ou skaduboom of jou luukse tent of opslaan-sleepwa so na as moontlik aan die rivier of see nodig. Almal soek altyd die beste vir hul gesinne of die beste waarde vir geld, maar almal is nie kenners op alle gebiede nie.

Dit is waarom Pretoria FM by die Karavaan, Kamp en Bestemmingskou betrokke geraak het, want ons weet daar is kenners wat raad en inligting oor al die afdelings van die buitelewe kan verskaf – mense wat alles prakties self beleef en beproef het en uit ondervinding die nodige aanbevelings kan maak. Daar is ook voorbeelde van feitlik alles beskikbaar en besoekers kan in woonwaens klim en tente ondersoek om self te besluit wat die beste vir hul gesinne kan werk.

Dieselfde geld vir die toerusting wat uitgestal word – toerusting wat jou wildste drome en grootste verwagtings sal oortref. Selfs daardie toerusting en katoeters waarna jy nog altyd gesoek het wat jou buitelewe-belewenis vir altyd sal vergemaklik, word aan die kampeerder en buitelewe-geesdriftige voorgestel.

Nóg ’n belangrike deel van die skou is die vakansiebestemmings wat onder die aandag van besoekers gebring word en wat jy gewoonlik slegs tydens die skou teen groot afslagpryse kan bekom. Dit is beslis jou eenstopbuiteleweskou waar jy as kampeerder gaan kry wat jy soek en waar jy kan besluit waar jy volgende wil gaan vakansie hou én dit teen die beste pryse gaan bekom!

Pretoria FM gaan tydens die skou regstreeks vanaf die Gallagher-konvensiesentrum uitsaai en die besoekers gaan die geleentheid kry om by die buite-uitsendingseenheid in te loer en met die aanbieders kennis te maak en sommer lekker te gesels. Van die nuwe produkte sal ook as ’n “lusmaker” op die stasie bekendgestel word.

Maak seker jy kry jou kaartjie om nie dié spesiale geleentheid mis te loop nie.

Die nuutste in die wêreld van woonwaens, tente, kampeertoerusting, tegnologie spesifiek gerig op die buitelewe, vakansies waarvan jy nog net gedroom het,’n verskeidenheid lekker kos en goedkoop, veilige parkering. Gooi alles bymekaar en begin solank die dae aftel na 22 – 24 Februarie wanneer jou stoutste verwagtings oortref gaan word by vanjaar se Karavaan, Kamp en Bestemmingskou by die Gallagher-konvensiesentrum!

Die skou wat jou só na aan die buitelewe bring, dat jy die leeus kan hoor brul, die visarend kan hoor roep en die vleisie op die kole kan ruik én proe!

Besoek Pretoria FM se webwerf
Besoek die Karavaan, Kamp en Bestemmingskou se webwerf
Datum: 22 – 24 Februarie 2019
Toegang: R100 per volwassene | R60 per pensioenaris of student | Kinders onder 12 is gratis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.