Kunstefees en talentkompetisie vir kinders

ʼn Kunstefees van ʼn ander aard word later vanjaar in Johannesburg aangebied om die jeug aan die kunste bloot te stel.

Die Wêlakapêla Kinderfees is die breinkind van die akteur Wynand van Vollenstee en die sakevrou Mariaan du Plessis.

Die multikulturele fees vind 11 en 12 Mei by die Ruimsig‑atletiekstadion in Johannesburg plaas en is spesifiek op kinders en gesinne gemik.

“Die doel van die fees is om die jeug te verryk deur hulle bloot te stel aan die wonderlike en opvoedkundige wêreld van die kunste soos kinderteater, poppekas, musiek, interaktiewe teater en vele meer. Die fees beloof om ʼn hoogtepunt op alle gesinne se kalender te wees.”

Topproduksies wat te sien gaan wees, sluit in Lollos, Tjiff & Tjaff, Poppekas deur Michelle Botha, The Light Warrior (teaterproduksie gemik op boelies), Die Laaste Mango, en Gretha Pers.

Daar sal ook ʼn enorme opblaasbare speelpark, pretritte, mini-skoonheidsalon, spookhuis, speelgoed‑ en lekkergoedwonderland, verskeie stalletjies wat slegs kinderprodukte verkoop, kosstalletjies en vele meer wees. Besoek gerus www.welakapelafestival.co.za vir verdere besonderhede.

Van Vollenstee en Du Plessis het intussen ook aangekondig dat hulle ʼn professionele talentkompetisie spesifiek vir die jeug gaan aanbied.

Die Kids Talent Festival beloof om een van die land se grootste talentkompetisies te word. Spesiale toekennings, kontantpryse ter waarde van R350 000 en meestersklasse deur voorste Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars is op die spel.

Die doel van die kompetisie is om nuwe talent te vind en professionele uitvoerende geleenthede te skep vir jong kunstenaars. Die blootstelling en ondervinding sal vir enige jong kunstenaar van onskatbare waarde wees.

Kategorieë sluit in drama, sang, dans en instrumentaal (ligte musiek en klassiek). Daar is ook verskeie afdelings onder elke genre. Deelnemers mag aan meer as een genre deelneem en kan dus hul talent op verskeie platforms ten toon stel.

Beoordelaars sluit in Lizz Meiring, Jannie du Toit, Ignatius van Heerden, Mario Nell en die wêreldbekroonde konsertpianis Congyu Wang van Singapoer. Meestersklasse word deur hierdie beoordelaars aan elke kategoriewenner toegeken.

Inskrywingsvorms en verdere inligting is beskikbaar by die webtuiste www.kidstalentfestival.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.