kykNET Buite Ekspo: Beleef alles wat die buitelewe bied in Bela Bela

kykNET Buitelug Ekspo (Foto verskaf)

Die kykNET Buite Ekspo Limpopo is om die draai! Dié ekspo word vanaf 28 tot 30 September aangebied by Sondela Natuurreservaat en Spa naby Bela Bela.

Dié pragoord, ongeveer 80 km noord van Pretoria geleë, is reg langs die N1 by die Bela Bela-afrit. Sondela se webwerf het besonderhede van alles wat dié oord bied.

Dit is al die negende jaar wat dié ekspo aangebied word en die ekspo’s vind tweejaarliks plaas – een in Limpopo en een in die Wes Kaap. Dit is egter die eerste keer dat die geleentheid by Sondela aangebied word en daar heers groot opgewondenheid.

Die ekspo fokus op buitelewe uitstallers wat die heel nuutste in buitelewe en relevante toerusting aan die publiek bring in ʼn veilige plaasatmosfeer. Uitstallers word aangemoedig om sommer op hul uitstalruimtes te kampeer om die produk te demonstreer soos wat dit in ʼn kampeeromgewing aangewend sou word.

Daar is ook ʼn snuffel- en kunsmark en ʼn groot verskeidenheid kosverskaffers, kroeg, biertuin, Mosambiek-vakansie-ervaring, GT Camper Braaihoek en ʼn tropiese “slush”-gebied. Daar is vanjaar ook ʼn groter speelpark vir die kinders en die bekende Gretha Pers sal haar verskyning op die verhoog maak.

kykNET Buitelug Ekspo (Foto verskaf)

Besoekers wat bietjie meer adrenaliengedrewe aktiwiteite soek kan gerus saam met Andre de Villiers in sy Amarok ry of ʼn veldrenrit-ervaring beleef en natuurlik die 4×4 Extreme-manne dophou soos hulle die spesiaal ontwerpte voertuie deur hulle passies sit. En wie weet, dalk is daar nog ʼn geleentheid om die ritte persoonlik te ervaar!

Toks en Tjops word Vrydagaand regstreeks uitgesaai vanaf die ekspo en gedurende die naweek sal verskeie kunstenaars soos Liezel Pieters, Chris Chameleon, Pieter Smith, EON, Riaan Grobler, Wynand en Cheree, Cordelia, Neil Somers en Len Muller te sien wees met Altus Theart as die gasheer.

Rugbygeesdriftiges hoef nie bekommerd te wees nie: Kom besoek gerus van Saterdagmiddag om 16:00 die GT Camper Sportpark waar die toets tussen Suid-Afrika en Australië uitgesaai sal word met ʼn paneelbespreking daarna. Kunstenaars sal optree as deel van dié baie gewilde konsep.

kykNET Buitelug Ekspo (Foto verskaf)

Die sepiesterre van kykNET se Binnelanders en Getroud met Rugby sal oudergewoonte ook saam met vier gelukkige lede van die publiek dit weer uitspook om as die 2018-braaikoning gekroon te word in die Jimmy’s Steakhouse Sauce Celebrity-braaikompetisie.

Sondela bied Sondagoggend vir die eerste keer in baie jare by die ekspo ʼn volwaardige bergfietswedren aan met verskeie afstande om aan deel te neem.

Na al dié opwinding kan jy boonop saam met ons helikopter oor die plaas vlieg vir slegs R295 vir ses minute.

Dagbesoekerstariewe is baie billik en beloop tussen R20 en R80 afhangende van die dag en ouderdom van die besoeker. Kaartjies is beskikbaar by die hek of by Computicket.

Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za vir meer.

LET WEL: Akkommodasie is baie beperk. Skakel Sondela sommer nou reeds by 014 736 8900 of besoek die webwerf Bela Bela Tourism.

Is jy ʼn uitstaller? Kontak Tersia by 071 659 9915 of [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.