kykNET Buite Ekspo: Die stof staan en ons kuier saam!

kykNET se Buite Ekspo het Vrydag by Mbizi Game Lodge afgeskop en dit kan nét lekkerder raak! Dit krioel van die mense en hier is sowaar iets vir almal.

Hoewel die ekspo gemik is op buitelewe-entoesiaste, sal enigeen dit geniet, selfs al het jy nog nooit gekampeer nie! Met talle kunstenaars om die gees te bou, 4×4-roetes, kosstalletjies, kindervermaak en ʼn kuiertent sal almal iets kry wat hul belangstelling prikkel.

ʼn Mens sien hoe die voertuig-entoesiaste almal nader staan as ʼn voertuig ʼn groot duin aandurf, en net wanneer jy dink die voertuig gaan omslaan, jaag hy sonder moeite tot by die volgende hindernis.

Wanneer jy moeg raak van al die rondrits oor die duine kan jy lekker ontspan en kuier by die groot kuiertent of kroeg. Jy kan iets te ete kry en selfs terugsit om die rugbywedstryd te geniet. Jy kan ook ʼn kameelrit oorweeg of ʼn draai maak in die vlooimark.

Kinders sal vir ure lank besig gehou kan word: Hulle kan vis vang in die dammetjies en op pretritte gaan.

Hier is te veel aktiwiteite om op te noem, maar die gees is heerlik en daar is genoeg kosstalletjies vir elke smaak.

Laai die kinders, ouers en vriende in die motor en kom maak ʼn draai! Moenie vergeet om sonbrandolie, gemaklike skoene en baie energie saam te bring nie. Dié jaar se kykNET Buite Ekspo is een wat jy nié wil misloop nie.

Die ekspo duur nog tot 1 Oktober om 14:00.

Vir nog inligting besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.