Leer hoe om self kaas, jenewer en whiskey te maak by ‘Finery Fair’-fees

The Finery Fair wat in 2015 gehou is (Foto: Facebook)

The Finery Fair wat in 2015 gehou is (Foto: Facebook)

Werkswinkels, soos hoe om kaas, jenewer en whiskey self by die huis te maak en die kuns van fermentasie, word aangebied by die Finery Fair-fees wat in September in Pretoria aangebied word.

Finery Fair word vanjaar, op 24 en 25 September, vir die tweede keer aangebied op die Kievits Kroon Country-landgoed.

Nina Marais, mediabestuurder van die kunstefees, sê dié fees, in dieselfde trant as feeste soos die KKNK in Oudtshoorn, Aardklop en die Woordfees, skep ʼn platform vir Pretorianers om ook self kreatief te raak.

“Die idee vir die Finery Fair het ontstaan met die gedagte om ʼn fees aan te bied waar alle kunsvorme betrek en tentoongestel word. Items soos kookkuns, teater, musiek, fynkuns, mode en vele meer sal betrokke wees,” het Marais vertel.

Dié lentefees spog vanjaar met meer as 80 uitstallers wat ʼn verskeidenheid produkte soos juwele, klere, kinderprodukte, organiese skoonheidsprodukte, leerprodukte, handgemaakte pottebakkery produkte en dekor gaan verkoop.

Besoekers kan uitsien na gratis teaterproduksies, ʼn kunsuitstalling en vermaak deur ʼn verskeidenheid van musikante. Daar is ook ʼn groot aanbieding van wyn, boetiekjenewer, whiskey en bier.

Kunstenaars soos Kate Rok, Silver Creek Mountain Band, Bottomless Coffee Band, Suzzi Swanepoel en Gerald Clark sal besoekers vermaak.

Die teaterproduksies word op albei dae aangebied. Dit is gratis, maar feesgangers moet steeds bespreek.

Een van die produksies wat te sien is, is Monolopy – ʼn Afrikaanse drama oor ʼn pasgetroude paartjie. Goedige Giel (7de Laan se Herman Vorster) en vuilbek Anna (bekroonde aktrise Stephanie Gericke) kom by die hotel aan vir hul wittebrood en besef hulle het eintlik niks in gemeen nie. Hierdie gewaarwording neem die gehoor op ʼn donker liefdesreis.

Die tweede produksie, Kiu, wat “dors” beteken in Swahili, vat die gehoor op ʼn reis na ʼn somber wêreld wat ʼn waterlose Suid-Afrika voorstel. In hierdie boeiende stuk speel bekroonde akteur en regisseur, Mduduzi Nhlapo, die hoofrol.

Kaartjies vir die Finery Fair kos R120 per persoon as jy dit aanlyn koop, en R150 by die hek. Koop jou kaartjies op Quicket.

Besoek ook die Finery Fair se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.