Luister: Proe’toria-fees nou ‘nóg groter, beter’

Duisende feesgangers het verlede jaar die Proe’toria-fees in die ooste van Pretoria bygewoon. (Foto: Maroela Media)

Die sanger Bobby van Jaarsveld sluit vanjaar aan by die rits gewilde Suid-Afrikaanse musikante wat feesgangers tydens die Proe’toria-fees in Pretoria gaan vermaak.

Die gewilde makietie vind Saterdag 4 Maart en Sondag 5 Maart in die Botaniese Tuin in Pretoria plaas.

Leon Pheiffer, medestigter en uitvoerende hoof van die fees, sê die hulle is slaggereed om vanjaar opnuut te bewys waarom dié fees jaarliks een van die Jakarandastad se gewildste musiekfeeste is.

“Die Botaniese Tuin leen homself daartoe dat mense lekker kan rondbeweeg. Daar is ʼn biertuin, restaurante en kosstalletjies. Feesgangers kan ook eers die kossoorte by die kosstalletjies proe voor hulle koop. Verlede jaar was daar ʼn man wat amper 2 000 oesters verkoop het. Die fees fokus werklik op musiek én kos.”

Feesgangers kan weer uitsien na uitgesoekte kos-, lekkerny-, kuns-, jenewer-, kunsbier- en wynstalletjies, met die grootste name in die musiekbedryf op een verhoog. ʼn Handjievol wynplase gaan hulle uitgesoekte wyne in die wyntuin beskikbaar stel.

Kunstenaars sluit in Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Martin Bester, Irene-Louise van Wyk, Ricus Nel, Demi Lee Moore, Jemma Catherine, Alba V, en Die Kontrak-wenner, Samantha Leonard, asook Dodo Nyoka, naaswenner van die program.

“Die Sondag gaan baie spesiaal wees. Ons open om 10:00 met gebed en ʼn boodskap van Nadia Vorster, gevolg deur lofprysing saam met ‘n orkes. Daarna is Joe Niemand op die verhoog.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor die Proe’toria-fees. Besoekers wat vantevore die fees bygewoon het, sal getuig dat dit een van die prettigste en opwindendste feeste in Gauteng en jaarliks ʼn belewenis vir die hele gesin is. Ons doen alles moontlik om dit lekker te laat proe,” sê Pheiffer.

Om kaartjies te koop vir die Proe’toria-fees, besoek Tixsa se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SwartBees ·

Jip, behalwe vir die klein handjie vol talentvolle kunstenaars was die res net n geraas en alles kos n plaas se prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.