Militêre en Geskiedenisfees nóg groter vanjaar

Fees

Foto: Facebook/Militêre & Geskiedenisfees.

Die jaarlikse Militêre en Geskiedenisfees vind vanjaar op Maandag 2 Mei by die Voortrekkermonument Erfenisterrein plaas en sal spog met ’n verbyvlug van drie helikopters en ’n Grensoorlog-Bosbok. Die fees was verlede jaar só gewild dat daar vanjaar nog tien bykomende stalletjies is.

’n Paar miniatuurkanonne van die Kanonvereniging van Suid-Afrika sal vanjaar hul slag wys. Die Voortrekkermonument se kanon, Susanna, sal om 12:00 afgevuur word. Susanna is in 2003 van die Cape Town High School bekom. Dit is ’n Britse 6 pond-gunade-skeepskanon, ca. 1820. Die Kanonvereniging van Suid-Afrika borg tans die skoot wat Susanna op die eerste Vrydag van elke maand by Fort Schanskop skiet.

Ná die verbyvlug sal een van die Alouette-helikopters ’n paar maneuvers in die lug uitvoer, waarna dit sal land sodat mense met die loods kan gesels. Ou staatmakers soos Milkor sal die Supersix 40 mm-granaatlanseerder uitstal asook die vroeëre weergawe van hierdie wapen. Dan is daar ook die Zwartkop Scale Modellers-klub met ’n groot uitstalling, ’n plaaslike mesmaker en pragtige skaalmodelle van onder meer Ratels.

Die Pantserformasie van die SANW, asook die Lugafweerformasie gaan verskeie voertuie en wapenstelsels tot die fees bydra. Koevoet se stalletjie sal ’n pragtige beeldjie te koop aanbied, en die Rhodesian Light Infantry is ook vanjaar teenwoordig. Heelwat militêre boeke sal te koop wees. Handelaars sal militêre gedenkwaardighede, boeke, medaljes, uniforms en selfs militêre kunswerke verkoop. Omtrent 40 militêre nabootsers verleen kleur aan die geleentheid met militêre voertuie uit die Tweede Wêreldoorlog.

Die fees vind plaas van 09:00 tot 16:00 op die piekniekterrein van die Voortrekkermonument. Besoekers moet bedag wees op die feit dat geen braaivleisplekke tydens die fees gebruik mag word nie.

Daar is kosstalletjies en ’n bierterrein met sitplek vir die dorstiges. Toegang bedra R30 per voertuig, ongeag die getal insittendes. Navrae kan gerig word aan Geraldine Paulsen by [email protected] of by 012 326 6770.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wiebo ·

Dankie Maroela. Nou weet ek van die fees by die Voortrekker monument. Mens vind altyd te laat uit van sulke geleenthede, en loop dit dan mis. Kan Maroela asseblief oorweeg om lesers in te lig van gebeurlikhede soos die? Miskien onder goeie goed, of vermaak lesers inlig van feeste, 4X4 byeenkomste ?

Baie dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.